Nuus 17:00
BULLETIN 26 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet verbind tot die versnelde implementering van beloftes in die staatsrede
# Paul O’Sullivan vra die Parlement om verskoning na neerhalende opmerkings
# En, Linda Gxasheka sê die verlenging van Mzolo se kontrak was om kontinuïteit te verseker
# Die Kabinet het sy verbintenis herbevestig om belangrike hervormings wat tydens die staatsrede aangekondig is, te versnel. Die hervormings is daarop gemik om kritieke nasionale uitdagings op te los. Die belofte volg ná president Cyril Ramaphosa se planne om die waterkrisis aan te pak, georganiseerde misdaad te bestry, bek-en-klouseer te bekamp en sukkelende munisipaliteite reg te maak. Minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê duidelike aksieplanne word ingestel en die vordering sal noukeurig dopgehou word:
# Die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan het die Parlement se ad hoc-komitee om verskoning gevra nadat hy lede van die Parlement tydens ‘n onderhoud op eNCA as kruipers beskryf het. O’Sullivan het verduidelik hy het die opmerkings gemaak in reaksie op bewerings wat sy integriteit bevraagteken. Hy hou vol die opmerkings moet binne konteks gesien word, maar het die verklaring teruggetrek en die komitee formeel om verskoning gevra. O’Sullivan het ook by die verhore uitgeloop om ‘n vlug te haal:
# Die geskorste hoof van Menslike Hulpbronne in Ekurhuleni, Linda Gxasheka, is deur die Madlanga-kommissie van ondersoek ondervra oor die verlenging van die adjunkhoof van Polisie, Goodman Mzolo, se kontrak. Dit volg na getuienis deur die geskorste hoof van die Metropolisie, Isaac Mapiyeye. Gxasheka het aan die kommissie gesê die verlenging was ‘n blote prosedure en nie ’n poging om mag oor te neem nie. Dit was daarop gemik om kontinuïteit te handhaaf terwyl werwing afgehandel is. Sy het bevestig dat alle goedkeurings die stadsbestuur en polisieleierskap ingesluit het, ten einde aanspreeklikheid te verseker:
# Die leier van Noord-Korea, Kim Jong Un, waarsku dat sy land arbitrêr kan optrede en Suid-Korea heeltemal kan vernietig as sy veiligheid bedreig word. Hy het planne onthul om die land se kern- en interkontinentale ballistiese missielarsenaal uit te brei. Hy het ook besprekings met Suid-Korea uitgesluit, en hulle as die vyandigste nasie bestempel. Kim se kommentaar beklemtoon die toenemend uiteenlopende benaderings tussen Seoel en Pyongyang. Die president van Suid-Korea, Lee Jae Myung het op Kim se kommentaar reageer en gesê sy land onderskryf die beginsel van vrede.
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni sê die kabinet het die aanbieding van die LIV-gholftoernooi van 19 tot 22 Maart by die Steyn City-gholfbaan in Johannesburg goedgekeur. Bykomende toernooie word vir 2027 en 2028 beplan, met moontlike opvolgtoernooie in 2029 en 2030. Elke geleentheid sal na verwagting lei tot tussen 500-miljoen- en 800-miljoen-rand in direkte ekonomiese waarde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-89-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 21-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-161-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-171-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 69-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….