Nuus 17:00
BULLETIN 24 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Brown Mogotsi herhaal bewerings dat Nhlanhla Mkhwanazi ‘n Amerikaanse agent is
# GIWUSA vra meer befondsing vir Suid-Afrika se onderwysstelsel
# En, die ACDP bevraagteken die koste verbonde aan die Gautengse provinsiale rede by Nasrec
# Die Noordwes-sakeman, Brown Mogotsi, het bewerings herhaal dat die kommissaris van Polisie in KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, bande met die Amerikaanse Sentrale Intelligensie-agentskap het. Mogotsi het tydens kruisondervraging voor die parlementêre ad hoc-komitee gesê sy taak was om die saak te ondersoek op grond van kommer oor die kwessie. Hy het verwys na uitsprake deur Mkhwanazi oor opleiding in die Verenigde State:
# Die vakbond GIWUSA vra die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om befondsing vir die Departemente van Basiese Onderwys en Hoër Onderwys en Opleiding te prioritiseer in vanjaar se begrotingstoewysings. GIWUSA se president, Mametlwe Sebei, sê Suid-Afrika se onderwysstelsel is in ‘n krisis wat dringende en reuse- openbare beleggings vereis met tersiêre onderwys wat spesiale aandag moet kry:
# Die ACDP kritiseer die Gautengse regering omdat hulle gister die provinsiale rede by die Nasrec-uitstalsentrum gehou het te midde van onbetaalde rekeninge. Palesa Yates van die party sê provinsiale staatsdepartemente skuld die Ekurhuleni-metro meer as 123-miljoen-rand. Die provinsiale regering het twee sale bespreek, een vir premier Panyaza Lesufi se toespraak en die ander as ‘n eetsaal. Yates sê Lesufi se regering moet noodsaaklike dienste voorrang gee, nie buitensporige geleenthede nie:
# Owerhede in Thailand ondersoek die dood van talle tiere by ‘n gewilde toeriste-aantreklikheid. Twee-en-sewentig tiere is in minder as twee weke dood in twee parke van Tiger Kingdom Chiang Mai, waar besoekers die groot katte kan aanraak en met hulle kan kommunikeer. Die plaaslike vee-afdeling sê monsters van die diere het die hoogs aansteeklike hondesiekte getoon. Die virus val die gasheer se asemhalings-, spysverterings- en senuweestelsel aan. Dit word gewoonlik by honde aangetref, maar kan ook groot katte besmet.
# Krieket: Die hulpafrigter van Indië, Ryan ten Doeschate, sê die span besef hy moet twee groot oorwinnings behaal in hul oorblywende Super Agt-wedstryde van die T20-Wêreldbeker. Dit volg na die gasheer se verpletterende nederlaag Sondag teen Suid-Afrika. Die Proteas het met 76 lopies gewen nadat hulle die verdedigende kampioen vir slegs 111 uitgeboul het. Die telling het Indië met ‘n negatiewe netto lopietempo gelaat. Indië speel volgende teen Zimbabwe en die Wes-Indiese Eilande. Ten Doeschate sê hulle is nog nie paniekerig nie, maar het wel gesinspeel op moontlike veranderinge aan die kolflys.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-1-sent teen die dollar, 18-rand-85-sent teen die euro en 21-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-57-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-158-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 71-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….