Nuus 17:00
BULLETIN 18 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Inflasie in Suid-Afrika daal tot 3,5% in Januarie
# Die Verkiesingskommissie rig ‘n waarskuwing oor apatiese jeugkiesers voor die plaaslike regeringsverkiesing
# En, Johannesburg slaan toe op onwettige advertensieborde
# Statistieke Suid-Afrika sê inflasie het in Januarie tot 3,5-persent verlangsaam vanaf 3,6-persent in Desember, danksy laer brandstofpryse en bestendige voedselkoste. Pryse van rys, mieliemeel, suiwel en eiers het gedaal, maar vleispryse hou aan styg. Brandstof het tot op sy laagste vlak in byna vier jaar gedaal. Ricado Johnson van Statistieke SA sê bankfooie en sekere skooluniform-items het gestyg, maar skryfbehoeftes en handboekpryse het gedurende die maand gedaal:
# Die Verkiesingskommissie het vandag die landwye tersiêre onderwys-aktiveringsveldtog by die Taletso Kollege vir Tegniese en Beroepsonderwys en –opleiding in Mafikeng, Noordwes, van stapel gestuur, voor die plaaslike regeringsverkiesing. Die hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, het aan SABC News gesê die veldtog, onder die vaandel ‘Save the Democracy, Save the Date’, het ten doel om demokratiese waardes te versterk en studentebetrokkenheid te verhoog te midde van dalende getalle onder jeugkiesers:
# Die Stad Johannesburg doen ‘n beroep op mediamaatskappye en buitelug advertensie-agentskappe om nie maatskappye te ondersteun wat sonder goedkeuring werk nie. Die metro het in samewerking met City Power, die Joburg Property Company, Johannesburg Metropolisie en die Johannesburg Padagentskap tien onwettige advertensieborde langs Winnie Mandela-rylaan in Sandton verwyder, waarvan sommige onwettige kragaansluitings gehad het. Die uitvoerende direkteur vir Ontwikkelingsbeplanning, Eric Raboshakga, het die belangrikheid beklemtoon van nakoming van verordeninge, behoorlike toepassings en verantwoordelike eiendomsonderhoud.
# Vredesgesprekke tussen Oekraïne en Rusland in Genève het na slegs twee uur geëindig. Die Oekraïense president, Volodimir Zelensky, het dit as moeilik beskryf en Rusland daarvan beskuldig dat hy doelbewus vordering vertraag met ‘n ooreenkoms om die oorlog te beëindig. Rusland se hoofonderhandelaar, Vladimir Medinsky, sê verdere onderhandelinge sal binnekort plaasvind, maar nie ‘n datum aangedui nie. Die konflik, wat Rusland in Februarie 2022 begin het, het al die lewens van honderde-duisende mense geëis, miljoene moes uit hul huise vlug en baie stede en dorpe is verwoes.
# Sokker: Stadium Management South Africa waarsku sokkerondersteuners oor vervalste kaartjies voor vanaand se wedstryd tussen Sundowns en Pirates by die FNB-stadion. Die uitvoerende hoof, Bertie Grobbelaar het aan SABC Nuus gesê minstens 46-duisend kaartjies is verkoop en meer as twee-duisend sekuriteitspersoneel word ontplooi om veiligheid te verseker. Hy vra ondersteuners om vroeg op te daag, digitale kaartjies gereed te hê vir skandering, en verkeersvertragings te verwag met die wedstryd wat om halfagt afskop:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-1-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-665-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-955-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 68-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….