Nuus 17:00
BULLETIN 13 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Green Connection sê die staatsrede wek kommer
# Thulani Magagula sê aanklaers en nie die ondersoekers nie besluit oor die aanklagte te midde van EMPD-ondersoek
# En, Donald Trump wil sekere tariewe op staal- en aluminiumgoedere verminder
# Die gemeenskapsuitreikkoördineerder van The Green Connection, Neville van Rooy, sê president Cyril Ramaphosa se staatsrede laat meer vrae as antwoorde. Hy is bekommerd oor die duidelikheid en uitvoerbaarheid van regeringsverpligtinge en beklemtoon gemeenskappe het tasbare optrede in plaas van breë beloftes nodig. Van Rooy vra opvolgaksie om te verseker dat beloftes in die staatsrede tot betekenisvolle omgewings- en sosiale impak kan lei:
# Die assistent-direkteur van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat, Thulani Magagula, het aan die Madlanga-kommissie gesê die direktoraat besluit nie of sake voortgaan of nie. Hy het getuig oor korrupsie binne die Ekurhuleni-metropolisiedepartement en sê slegs die aanklaer bepaal aanklagte bepaal, selfs al maak OPOD beswaar. Magagula het sake aangehaal, insluitend polisiekorrupsie, waar ondersoeke voltooi was maar aanklagte teruggetrek is weens onopspoorbare getuies:
# Die minister van Wetenskap, Tegnologie en Innovasie, Blade Nzimande, het leerders aan die Fezeka High– en Siyabulela Primary- skole by die Nasionale Navorsingstigting se Suid-Afrikaanse Astronomiese Sterrewag in Kaapstad ontvang. Die besoek vorm deel van die Wetenskapsuitreikprogram, en bevorder onderwys in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde. Hy sê leerders het die McClean-teleskoop besigtig en wiskunde- en wetenskapgereedskapstelle ontvang om leerwerk te verbeter en jong wetenskaplikes aan te moedig:
# Amerikaanse president Donald Trump beplan om sekere tariewe op staal- en aluminiumgoedere te verminder met amptenare wat glo die tariewe benadeel verbruikers. Kiesers is bekommerd oor pryse, en kommer oor lewenskoste sal na verwagting ‘n belangrike rol speel voor die middeltermynverkiesing in November. ‘n Reuters/Ipsos-peiling het onlangs getoon 59-persent van Amerikaners veroordeel Trump se hantering van stygende lewenskostes. Hy het verlede jaar tariewe van tot 50-persent op staal- en aluminium-invoere gehef en het herhaaldelik heffings vir onderhandelingsdoeleindes gebruik.
# Netbal: Netbal Suid-Afrika het Adam Brooke se aanstelling aangekondig as nuwe uitvoerende hoof vanaf 1 Maart. President Mami Diale sê dis deel van die federasie se heropbou- en versterkingsproses. Sy is tevrede met die uitslag van ‘n streng, deursigtige werwingsproses, en glo die regte kandidaat is gekies. Brooke het meer as 20 jaar ondervinding van alle vlakke van sportbestuur. Hy was betrokke by verskeie groot internasionale sportbyeenkomste, insluitend die Tour de France, die Olimpiese Spele en die Wêreldbeker-rugbytoernooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-97-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-338-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-984-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 67-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….