Nuus 17:00
BULLETIN 12 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Firoz Cachalia vra professionele wetstoepassing tydens die staatsrede
# Cyril Ramaphosa sê die waterkrisis in Johannesburg is belangriker as die bywoning van die staatsrede
# En, die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat is bekommerd oor die Ekurhuleni Metro-polisiedepartement se dissiplinêre proses
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het lede van wetstoepassingsagentskappe gevra om waaksaam en professioneel te wees wanneer president Cyril Ramaphosa vanaand sy staatsrede lewer. Cachalia het beamptes in Kaapstad toegespreek en gesê die staatsrede vereis die hoogste vlak van voorbereiding om veiligheid te waarborg. Hy doen ‘n beroep op lede om binne die Grondwet op te tree, die publiek met respek te behandel en die belangrike rol van die polisie in die beskerming van die demokrasie te demonstreer:
# Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, en die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sal nie die staatsrede bywoon nie, maar eerder dringend aandag skenk aan die erger-wordende waterkrisis in Johannesburg. Dit volg nadat langdurige onderbrekings gelei het tot betogings in sekere gebiede, insluitend Midrand en Parktown-Wes. Die woordvoerder in die presidensie, Vincent Magwenya, sê president Cyril Ramaphosa ag die waterkrisis belangriker as die staatsrede en wil hê dit moet dringend opgelos word. Magwenya het bygevoeg Ramaphosa is ook bekommerd oor watertekorte in ander dele van die land.
# ‘n Senior ondersoekbeampte by die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat, Nomsa Masuku, het voor die Madlanga-kommissie getuig dat die Ekurhuleni Metro-polisiedepartement weier om beamptes te dissiplineer tensy OPOD volledige saakdossiere verskaf, insluitend besonderhede oor getuies. Masuku waarsku dit stel getuies bloot aan gevaar en kan veroorsaak dat sake voor die verhoor in duie stort. Sy sê ondersoekers moet getuies oordeelkundig beskerm, en departemente kan steeds begin met interne prosesse sonder om te wag vir OPOD se finale aanbevelings:
# Die tel van stemme het begin in Bangladesj se beslissende nasionale verkiesing nadat miljoene mense vir ‘n nuwe regering gestem het. Die verkiesing volg na die uitsetting van die veteraan premier Sheikh Hasina in 2024 tydens ‘n Generasie Z-opstand. Ontleders sê ‘n beslissende uitslag is noodsaaklik vir bestendige regering in die land van 175-miljoen burgers. Dodelike anti-Hasina-betogings het maande van onrus veroorsaak en sleutelbedrywe ontwrig. Twee voormalige bondgenote, die Bangladesj Nasionale Party en die Islamitiese Jamaat-e-Islami is die hoofaanspraakmakers. Hasina se Awami League is verbied, en sy is steeds in selfopgelegde ballingskap in Indië.
# Olimpiese Spele: Die Oekraïnse atleet Vladyslav Heraskevych sê die verbod op sy deelname aan die Winter Olimpiese Spele in Noord-Italië is die prys vir waardigheid. Die Internasionale Olimpiese Komitee het hom verbied nadat hy volgehou het om ‘n gedenk-valhelm te dra met foto’s van atlete wat tydens Rusland se inval dood is. Die president van die Internasionale Olimpiese Komitee, Kirsty Coventry, het die 26-jarige in Cortina besoek in ‘n laaste poging om hom te oortuig om nie die valhelm tydens die Spele te dra nie. Hy wou egter niks weet nie en is gevolglik verbied om deel te neem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-83-sent teen die dollar, 18-rand-82-sent teen die euro en 21-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-79-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-80-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….