Nuus 17:00
BULLETIN 9 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Thoko Didiza ondersteun voortgesette gesprekke om getuies se verskyning voor ad hoc-komitees te verseker
# Die Mosambiekse konsulaat werk saam met die hof in die DJ Warras-saak
# En, die Gautengse LUR vir Vervoer bevestig dat meer as ‘n duisend aansoeke vir leerdervervoer steeds hangende is
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het die vordering verwelkom wat ‘n parlementêre ad hoc-komitee gemaak het om getuies se verskyning te verseker sonder om dagvaardings uit te reik. Die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan het ingestem om van môre te getuig terwyl besprekings met die sakeman Brown Mogotsi voortduur. Woordvoerder Moloto Mothapo sê ‘n dagvaarding is ‘n ernstige regstap en moet slegs as laaste uitweg gebruik word:
# Die Mosambiekse Konsul-generaal in Johannesburg, Guilherme Tamele, sê hy werk saam met die owerhede in die “DJ Warras” Warrick Stock-moordsaak ná die inhegtenisneming van die Mosambiekse burger, Armindo Pacula. Pacula het in die Johannesburgse Landdroshof verskyn en sy borgtog laat vaar en gaan moontlik ‘n pleitooreenkoms sluit. Stock is in Desember 2025 voor die gekaapte Zambezi-gebou in die Johannesburgse middestad vermoor. Tamele het aan SABC News gesê die konsulaat versamel toepaslike inligting:
# Gauteng se LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, sê sedert 2025 het meer as duisend-500 operateurs aansoek gedoen vir lisensies vir leerdervervoer. Meer as 500 is goedgekeur, en meer as duisend is steeds in die afhandelingsproses. Sy het gister ‘n provinsiale vergadering van belanghebbendes by leerdervervoer by die Johannesburgse Stadsaal aangebied. Dit het gefokus op leerderveiligheid en nakoming vir vervoeroperateurs. Diale-Tlabela sê operateurs wat nie aan die minimum wetlike vereistes kan voldoen om leerders veilig te vervoer nie, het geen reg in hierdie ruimte nie.
# Die Britse premier, Keir Starmer, se direkteur van kommunikasie, Tim Allan, het bedank. Dit volg ‘n dag nadat Starmer se top-assistent, Morgan McSweeney, bedank het nadat hy Peter Mandelson oor sy welbekende bande met Jeffrey Epstein ondersteun het. Die verlies van twee senior assistente kort na mekaar volg terwyl Starmer probeer om die krisis te bestuur na sy regering Mandelson as Amerikaanse ambassadeur aangestel het. Allan het van 1992 tot 1998 as adviseur vir voormalige premier Tony Blair gedien en is in September verlede jaar deur Downingstraat aangestel.
# Rugby: Ierland het tot vyfde plek op die wêreldranglys gedaal – sy laagste posisie in amper vier jaar – na Saterdag se vernederende nederlaag van 36-14 teen die verdedigende kampioen, Frankryk, in die eerste naweek van vanjaar se Sesnasiesreeks. Les Blues het tot vierde geklim na Engeland, met Suid-Afrika en Nieu-Seeland steeds eerste en tweede. Italië het Skotland in die negende plek vervang nadat hulle die Skotte Saterdag in Rome 18-15 geklop het. Argentinië bly sesde, gevolg deur Australië en Fidji. Wallis is steeds 11de nadat hulle teen Engeland verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-97-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-126-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-16-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 67-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….