Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die O-V-K stel sy verkiesing-deposito-vereistes bekend
# Rivonia Circle waarsku jongmense wantrou die kiesstelsel
# En, rugby: Dis amptelik – Rassie is terug as Springbok-hoofafrigter
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het die vereiste verkiesing-deposito’s vir deelnemende politieke partye en onafhanklike kandidate in die komende verkiesing aangekondig. Volgens die OVK se uitvoerende hoof, Sy (Saai) Mamabolo, sal deelnemende politieke partye 50-duisend-rand moet neersit vir elke provinsiale wetgewer waarin hulle meeding. Onafhanklike kandidate sal 20-duisend-rand moet deponeer vir elke streek waarin hulle meeding. Hierdie deposito’s het ten doel om die toewyding en erns van politieke partye en onafhanklike kandidate in die verkiesingsproses te verseker:
Intussen spreek die Rivonia Circle sy kommer uit oor jongmense se gebrek aan vertroue in politieke partye en die kiesstelsel. Khanya Burns-Ncamashe van die organisasie sê daar is ‘n behoefte dat politieke partye groter pogings moet aanwend om die jeug te oortuig om aan die stemproses deel te neem. Sy het aan eNCA gesê dis belangrik om hierdie kwessie aan te pak aangesien die land ‘n ouer kiesersbasis het. Sy vra meer betrokkenheid by jong kiesers om ‘n uiteenlopende en verteenwoordigende demokrasie te verseker:
# Petrol- en dieselpryse styg om middernag. Dit volg op skerp prysdalings die afgelope maande. Die prys van loodvrye petrol van albei oktane styg met 75-sent per liter, en die groothandelprys van diesel tussen 70- en 73-sent. Die groothandelprys van lampolie word met 53-sent per liter verhoog, en die maksimum kleinhandelprys van vloeibare gas styg met 37-sent per liter. Suid-Afrikaanse brandstofpryse word hoofsaaklik bepaal deur internasionale oliepryse en die randwisselkoers, omdat olie in dollar verkoop word.
# Rugby: Rassie Erasmus keer amptelik terug as hoofafrigter van die Springbokke vir die volgende vier jaar. SA Rugby het die afrigtingspan bevestig, met die gewese Ierse haker Jerry Flannery wat beheer oorneem van verdediging, terwyl die gewese All Black-losskakel Tony Brown sal fokus op aanval. Hulle sluit aan by Mzwandile Stick, Deon Davids en Daan Human, met Andy Edwards as hoof van atletiese prestasie. Jaco Peyper, wat onlangs uitgetree het as skeidsregter, sluit aan as nasionale raadgewer oor reëls, en die Bok-agsteman Duane Vermeulen is die reisende afrigter van al SA Rugby se nasionale spanne.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-896-dollar-43-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-26-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-51-sent per vat.
# Ten slotte: Die Stad Kaapstad het belangrike straatsluitings in die middestad bekendgemaak, ter voorbereiding van president Cyril Ramaphosa se staatsrede Donderdagaand. Sluitings sal strate raak soos Darling, Hanover, Langmark, Korporasie en Parade, van ses in die oggend tot middernag. Hierdie sluitings is daarop gemik om die verkeersvloei rondom die Stadsaal te vergemaklik waar die geleentheid plaasvind. Motoriste word aangeraai om hulleself te vergewis van die gebiede in die stadskern wat geraak word en alternatiewe roetes te beplan. Daar word ook verwag dat parkering beperk sal wees in bepaalde gebiede.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….