Nuus 17:00
BULLETIN 26 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Getuie E verbind top-polisiebeamptes met die sluipmoord op Sindiso Magaqa
# SANParke bevestig bedrywighede in die Skukuza-ruskamp word gedeeltelik hervat
# En, die DA sê SAPS-speurders in Wes-Kaap word deur bykans 300-duisend sake oorweldig
# ‘n Geheime misdaadintelligensie-agent, bekend as Getuie E, het aan die Madlanga-kommissie gesê hy het volle besonderhede oor die moord op die voormalige sekretaris-generaal van die ANC-jeugliga, Sindiso Magaqa, aan die destydse minister van Polisie, Senzo Mchunu, bekend gemaak. Getuie E sê Mchunu het direk met hom in verbinding getree, ten spyte daarvan dat sy nommer nie gelys is nie, en gevra vir die name van die SAPD-amptenare wat na bewering betrokke is. Hy het bevestig hy het alle inligting en identiteite bekend gemaak en homself beskryf as ‘n verpligte, beskermde staatsgetuie:
# SANParke sê dele van die Krugerwildtuin, insluitend die Skukuza-ruskamp, is gedeeltelik oop nadat swaar reën ernstige oorstromings in Mpumalanga en Limpopo veroorsaak het. Verskeie kampe, paaie en brûe is beskadig. SANParke se uitvoerende hoof, Hapiloe Sello, sê herstelwerk kan meer as vyf-miljard-rand beloop. Sy het personeel geprys oor hul rampgereedheid sonder enige lewensverlies. Sy sê meer as 500 werknemers is steeds afgesonder, maar SANParke verskaf deurentyd voedselpakkies en ondersteuning.
# Die DA sê geregtigheid in die Wes-Kaap word bedreig. Vier jongmense is oor die naweek op die Kaapse Vlakte geskiet, met drie dood en een beseer. Volgens die party word byna 300-duisend sake deur slegs twee duisend-700 speurders behartig, waarvan baie sonder voertuie is, en slegs 82 wat georganiseerde misdaad ondersoek. Benedicta van Minnen van die DA het die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, gevra om polisievermoëns te verhoog ten einde gemeenskappe te beskerm:
# Die dodetal in vanoggend se veerbootongeluk in die suide van die Filippyne het tot minstens 15 gestyg, met 316 mense wat gered is, terwyl die soektog na vermiste persone voortduur. Die ongeluk het plaasgevind toe die vaartuig van Zamboanga na Jolo in die Sulu-provinsie op pad was. Die Filippynse-kuswag sê daar was 332 passasiers en 27 bemanningslede aan boord. ‘n Ondersoek is begin om die oorsaak van die ongeluk te bepaal en militêre vliegtuie en vaartuie is ontplooi om met reddingspogings te help.
# Tennis: Die sesmalige Grand Slam-kampioen Iga Swiatek het die plaaslike kwalifiseerder Maddison Inglis se Australiese Ope-sprokie beëindig en speel in die kwarteindronde teen die vyfde-gekeurde Elena Rybakina van Kazakstan. Die tweede-gekeurde Pool het Inglis 6-stroop, 6-3 afgeransel. Inglis het die vierde ronde gehaal toe Naomi Osaka weens ‘n besering onttrek het. Haar verskyning in die vierde ronde het haar byna vyf-miljoen-rand se prysgeld besorg, asook belangrike ranglyspunte. Swiatek het vier Franse Ope-titels en die Amerikaanse Ope en Wimbledon gewen, maar kort nog die trofee in Melbourne.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-726-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-80-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 65-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….