Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê die billike energie-oordrag-beleggingsplan gee voorkeur aan ‘n groen lewensbestaan
# Saftu sê ‘n minimumloonverhoging skiet steeds tekort vir ordentlike lewenstandaarde
# En, krieket: Indië wen die tweede toets en maak die reeks teen Engeland gelykop
# President Cyril Ramaphosa sê die regering neem beduidende stappe om ‘n laekoolstof, klimaatbestande ekonomie te vestig deur die billike-energie-oordrag-beleggingsplan. Hy was die spreker tydens die 30ste Indaba oor die Belegging in Afrika-mynbou en sê die mynbousektor speel ‘n sleutelrol in hierdie positiewe ontwrigting. Die plan is daarop gemik om nuwe nywerhede te vestig, lewensbestaan in die groen ekonomie te ondersteun, en samewerking tussen die regering en maatskaplike vennote te bevorder. Ramaphosa moedig die mynbedryf aan om aktief betrokke te raak by die bevordering van innovering in groen tegnologie vir ‘n volhoubare toekoms:
# Die vakbond-federasie Saftu dring aan die onlangs aangekondigde Nasionale Minimumloonverhoging van 25-rand-42 tot 27-rand-58 sent per uur is steeds te min min vir werkers en hulle gesinne om ‘n ordentlike lewenstandaard te handhaaf. Hoewel dit bo inflasie is, ag die federasie die loonverhoging onvoldoende om in basiese behoeftes te voorsien. Trevor Shaku van Saftu sê die maandelikse loon van ongeveer vier-duisend-633-rand kan nie noodsaaklikhede, insluitend kos, huur en vervoer, dek nie. Shaku herhaal Saftu se langdurige eis vir ‘n minimumloon van 72-rand per uur:
# Die vakbondfederasie Cosatu het sy medelye met die mense van Namibië uitgespreek ná die dood van president Hage Geingob. Die organisasie het Geingob beskou as ‘n vegter teen apartheid en kolonialisme. Cosatu se adjunk-hoofsekretaris, Matthew Parks, beskryf hom as ‘n ware leier wat sy lewe gewy het aan die stryd vir vryheid, geregtigheid en demokrasie. Parks het ook die ontslape president geprys vir sy ondersteuning van Suid-Afrika se saak teen Israel in die Internasionale Geregshof.
# Krieket: Indië het die tweede toets teen Engeland met 106 lopies gewen en die reeks gelykop gemaak. Die gashere het 396 in hul eerste beurt aangeteken en die besoekers het geantwoord met 253. Indië het daarna 255 in hul tweede beurt behaal, wat Engeland ‘n teiken van 399 gestel het om ‘n voorspring van 2-0 te neem nadat hulle die eerste wedstryd beklink het. Jasprit Bumrah en Ravichandran Ashwin het egter albei vier paaltjies geneem en Engeland is uitgeboul vir 292. Die derde van die vyf toetse begin volgende Donderdag in Rajkot.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-313-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-21-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-16-sent per vat.
# Ten slotte: Die Grammy-bekroonde Suid-Afrikaanse sangeres, Tyla, sê haar pa het reeds besluit hy sal haar prys in sy kamer hou. Die 22-jarige was oorweldig toe sy as wenner in die kategorie vir Beste Afrika-musiekuitvoering aangewys is vir haar reuse treffer, Water, en het die jongste Suid-Afrikaner geword om die gesogte toekenning te wen. Tyla, afkomstig van Edenvale in Gauteng, het ‘n dramatiese liggroen Versace uitgeknipte gaasrok gedra. Sy het die gehoor se harte gewen toe sy op die ingewing van die oomblik ‘n dansnommertjie uitgevoer het terwyl sy die Grammy omhoog hou:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….