Nuus 17:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 16 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die AA voorspel aansienlike afname in brandstofpryse in Desember
# Eskom stel fase 3-beurtkrag in vanaf vanaand
# En, motorsport: Maak gereed vir F1-motors wat afblits langs die Las Vegas Strip
# Die Outomobiel-Assosiasie verwag volgende maand ʼn betekenisvolle daling in die prys van brandstof, wat verligting aan verbruikers en vakansiereisigers bied. Vooruitskattings dui op ‘n daling van ongeveer een-rand-ses-sent per liter vir 95-oktaan petrol, een-rand-vyf-sent vir 93-oktaan petrol en twee-rand-10-sent vir diesel. Die prys van lampolie sal na verwagting ook met ongeveer een-rand-75 sent daal. Die AA skryf hierdie verlagings toe aan verlaagde internasionale produkpryse en ‘n sterker rand teenoor die Amerikaanse dollar. Motoriste word ook versoek om te verseker dat hul voertuie in ‘n goeie toestand is wanneer hulle op reis gaan.
# Eskom het fase 3-beurtkrag van vanaand tot Saterdagoggend ingestel weens ‘n tekort aan opwekkingsvermoë. Die woordvoerder, Daphne Mokoena, sê daar sal oor die naweek ‘n rotasie tussen fase 1 en 2 wees. Dit volg weens ‘n vertraging in die terugkeer na diens van vier opwekkingseenhede, insluitend Koeberg se eenheid een. Mokoena sê die kragvoorsiener sal die kragstelsel fyn dophou en enige veranderings aan beurtkrag sal bekend gemaak word indien nodig:
Speel klankgreep: ENG-MokoenaOnLoad-shedding
# Die Oos-Kaapse Drankraad veroordeel plakkate op sosiale media-platforms wat Penne-neersit-partytjies aan die einde van die eindeksamen bemark. Talle grade sal binnekort hul eksamen voltooi en daar is ‘n groeiende vrees regoor die provinsie omdat sommige leerders dalk hierdie partytjies reël. Die raad se woordvoerder, Mgwebi Msiya, doen ‘n beroep op gemeenskappe om gedurende hierdie tyd uiters waaksaam te wees en om alles moontlik te doen om ‘n stokkie voor hierdie partydjies te steek:
Speel klankgreep: ENG MgwebionParties
# Motorsport: Dis hierdie naweek ʼn splinternuwe stilhouplek op die Formule Een-kalender – die Las Vegas Grand Prix. Die middelpunt van die wedren is ʼn strook van twee-kilometer lank al langs die beroemde Las Vegas Strip, tuiste van al die vernaamste casino-hotelle. Die eerste oefening vind môreoggend, Suid-Afrikaanse tyd, plaas en die wedren om agt-uur Sondagoggend. Ferrari is in die wedloop om die Vervaardigerskampioenskap en die Spaanse jaer, Carlos Sainz, sê hy kan nie wag om die nuwe baan te toets nie:
Speel klankgreep: ENG Carlos Sainz
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-909-dollar-40-sent. Die prys van goud is een-duisend-965-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-68-sent per vat.
# Ten slotte: ‘n Onlangse studie deur The Lancet Countdown waarsku dat globale hitteverwante sterftes na verwagting met 370-persent sal styg indien aardverwarming nie toereikend beheer word nie. Die studie beklemtoon in die besonder die risiko’s wat verband hou met stygende temperature en uiterste weersomstandighede, wat bydra tot gesondheidsbedreigings en voedselonsekerheid. Die navorsing toon dat bykans 525-miljoen mense wêreldwyd voedselonsekerheid verduur as gevolg van die uitwerking van aardverwarming en dat byna die helfte van Amerikaanse sterftes weens lugbesoedeling aan die verbranding van fossielbrandstowwe toegeskryf kan word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….