Nuus 17:00
BULLETIN 21 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Statistieke Suid-Afrika sê vleispryse is op die hoogste vlakke sedert 2018
# Sibonelo Nomvalo konfronteer Robert McBride oor bewerings rondom Leon Mbangwa se immigrasie-status
# En, NUMSA vra vir strenger regulering van skoolvervoer ná die Vanderbijlpark-tragedie
# Statistieke Suid-Afrika sê vleispryse het met gemiddeld 12,2-persent gestyg in die jaar tot November 2025, die hoogste styging sedert 2018. Beesvleis, varkvleis, skaapvleis en verwerkte vleis het skerp stygings aangeteken, met stowevleis wat met meer as 30-persent gestyg het. Patrick Kelly van Statistieke SA, sê die styging word gedryf deur voorsieningsprobleme as gevolg van voortgesette bek-en-klouseer-uitbrekings, al het inflasie tot 3,5-persent gedaal. Hy sê dit plaas druk op huishoudelike voedselbegrotings:
# Die parlementêre ad hoc-komiteelid, Sibonelo Nomvalo, het die voormalige hoof van Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat, Robert McBride, gekonfronteer oor bewerings dat die voormalige minister van Polisie, Nathi Mthethwa, ‘n onwettige immigrant as kantoorhoof aangestel het. Nomvalo het McBride daarvan beskuldig dat hy ongegronde en gevaarlike bewerings teen die Zimbabwiese burger Leon Mbangwa gemaak het, en daarop gewys dat die saak in die hof geskik is nadat sy burgerskap bewys is. McBride het volgehou sy bewerings is gebaseer op inligting wat destyds beskikbaar was:
# NUMSA in die Sedibeng-streek in Gauteng is uiters bekommerd oor padveiligheid nadat 12 leerders gesterf het toe ‘n voertuig wat leerders vervoer teen ‘n vragmotor gebots het in Vanderbijlpark. Drie leerders is steeds in die hospitaal. Die 22-jarige bestuurder is in hegtenis geneem en sal môre in die hof verskyn. NUMSA se nasionale woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, veroordeel voortdurende roekelose bestuur en vra strenger regulering van skoolvervoer:
# Rampbestuurspanne in die Stad Kaapstad werk aan herstelpogings nadat ‘n brand verskeie strukture in Masiphumelele vernietig het. Brand- en Reddingsdienste se woordvoerder, Jermaine Carelse, sê beoordelings sal begin sodra die gebied veilig is, en die Vaste Afvaldepartement sal die puin verwyder. Hy sê Gift of the Givers bied onmiddellike verligting, en SASSA en regeringsdepartemente sal aandag skenk aan inwoners wat ontwortel is:
# Rugby: Die heel eerste toer van die vroue-Britse en Ierse Leeus gaan laat volgende jaar vyf wedstryde in Nieu-Seeland speel. Dit behels drie toetse teen die Black Ferns, terwyl die ander wedstryde teen ‘n Swart Varing-vyftiental en ‘n uitnodigingspan sal wees. Die eerste toets sal op die Mount Smart-stadion in Auckland plaasvind, die tweede op Sky-stadion in Wellington en die laaste een op die One NZ-stadion in Christchurch. Die ander wedstryde sal in Whangarei en Hamilton gespeel word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-799-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-869-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 64-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….