Nuus 17:00
BULLETIN 19 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF blameer roekelose bestuur en swak paaie vir noodlottige ongeluk
# AfriForum wag op Julius Malema se vonnisoplegging
# En, die Menseregtekommissie verbind skoolvervoer-mislukkings in Noordwes met bestuursprobleme
# Die EFF in Gauteng het sy diepe hartseer uitgespreek na die tragiese ongeluk in Vanderbijlpark, wat die lewens van minstens 13 leerders geëis en verskeie ander ernstig beseer gelaat het. Die party sê die botsing reg van voor tussen ‘n minibus en ‘n swaar vragmotor, beklemtoon voortdurende probleme met roekelose bestuur, swak padtoestande en ‘n gebrek aan verkeerspolisiëring, veral in Emfuleni. Nkululeko Dunga van die EFF het die provinsiale regering versoek om die veiligheid van leerdervervoer te verbeter.
# AfriForum wag op die vonnisoplegging van die EFF-leier, Julius Malema, wat Vrydag in die Landdroshof in Oos-Londen begin. Hy is in Oktober skuldig bevind aan die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie, en die afvuur van ‘n vuurwapen in ‘n openbare gebied tydens ‘n EFF-saamtrek in die Oos-Kaap in 2018. AfriForum se woordvoerder, Jacques Broodryk, sê die vonnis moet aanspreeklikheid weerspieël:
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het ernstige gebreke in bestuurs- en verantwoording in Noordwes se skoolvervoer-program uitgelig. Kommissaris Nomahlubi Khwinana sê ingewortelde tekortkominge in die Departemente van Gemeenskapsveiligheid en Vervoer en van Onderwys bly ‘n uitdaging. Sy noem ook die provinsiale Tesourie se swak finansiële toesig, insluitend betalings van meer as ‘n miljard-rand vir dienste wat nie gelewer is nie, swak kontrakbestuur en beleidsgapings:
# Netbal: Shiko Mokaila het ‘n vier-jaar-kontrak geteken as nuwe hoofafrigter van die Suid-Afrikaanse mansspan. Die voormalige nasionale span-kaptein het in 2023 ná die Afrikabekertoernooi in Botswana uitgetree, wat sy voortreflike loopbaan van 15-jaar tot ‘n einde gebring het. Mokaila volg Jabulani Vilane op en word bygestaan deur Siyabonga Khuzwayo. Netbal Suid-Afrika se president, Mami Diale, sê Mokaila het dit wat nodig is om die span ‘n hupstoot te gee en voor te berei vir die volgende Wêreldbekertoernooi in 2028.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-979-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-668-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 63-dollar-22-sent per vat.
# En laastens, China se geboortesyfer het in 2025 tot die laagste punt sedert 1949 gedaal, wat ‘n vierde agtereenvolgende jaar van bevolkingsafname aandui. Volgens data deur die Nasionale Statistiekburo, is 7,92-miljoen babas verlede jaar gebore, ‘n afname van 9,54-miljoen teenoor 2024. Dit is teenoor 11,31-miljoen sterftes, met die algehele bevolking wat gevolglik met 3,39-miljoen gedaal het. In 2016 het Beijing die beleid van een kind per huishouding verslap en dit later heeltemal geskrap. Oor die afgelope dekade het owerhede reg oor China ‘n reeks maatreëls ingestel om die vrugbaarheidsyfer te versterk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….