Nuus 17:00
BULLETIN 9 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Umalusi bevestig die integriteit van die Departement van Basiese Onderwys se matriek-eksamen
# ActionSA kritiseer die regering van nasionale eenheid oor die versuim om parlementêre vrae te beantwoord
# En, Iran is van die wêreld afgesny met die Opperleier wat betogers dreig
# Die raad vir gehalte-versekering, Umalusi, sê geen ingrypende ongerymdhede is gevind wat die geloofwaardigheid van die Departement van Basiese Onderwys se matriek-eksamen in gedrang bring nie. Voorsitter Yunus Ballim sê meer as 903-duisend kandidate het by byna sewe-duisend sentrums geskryf. Van die 68 vakke wat voorgelê is vir standaardisering is 56 aanvaar, wat neerkom op 82-persent en die stelsel se bestendigheid weerspieël. Ballim het bevestig uitslae moet teruggehou word in die geval van ongerymdhede:
# ActionSA sê die regering van nasionale eenheid het ‘n basiese toets in demokratiese regering gedruip, naamlik verantwoordbaarheid teenoor die Parlement. Vier-en-sestig parlementêre vrae het die afgelope jaar onbeantwoord gebly en verval. Die voorste oortreders sluit in ministers Dean Macpherson, Solly Malatsi en Maropene Ramokgopa. Lerato Ngobeni van ActionSA sê in die laaste weke van verlede jaar het departemente op die nippertjie honderde antwoorde ingedien in ‘n oppervlakkige vertoon van nakoming:
# Die Wes-Kaapse Department vir Mobiliteit bied gratis voertuiginspeksies aan vir operateurs wat leerders vervoer om leerderveiligheid te verseker op die vooraand van die heropening van skole. Die LUR, Isaac Sileku, sê voldoening en padwaardigheid is noodsaaklik, met inspeksies wat fokus op remme, bande, vering en ruitveërs. Hy doen ‘n beroep op ouers om operateurs se lisensies en bestuurderspermitte te verifieer, terwyl operateurs veilige, padwaardige voertuie moet kan waarborg. Sileku sê die Departement se hulptoonbank en handhawingspanne ondersteun veilige vervoer regoor die provinsie:
# Iran is grootliks van die buitewêreld afgesny nadat owerhede internettoegang afgesny het om toenemende betogings te bekamp. Telefoonoproepe kom nie deur na die land toe nie, vlugte is gekanselleer en aanlyn Iranse nuuswebwerwe word net sporadies bygewerk. Opperleier Ayatollah Ali Khamenei het betogers daarvan beskuldig dat hulle namens Amerikaanse president Donald Trump optree, en waarsku Teheran sal nie mense duld wat as huursoldate vir buitelanders optree nie. Die betogings wat laat verlede maand oor stygende inflasie begin het, het ontaard in die grootste protesaksie in drie jaar.
# Sokker: Die kwarteindwedstryde van die Afrikabeker-toernooi word vandag en môre in Marokko gespeel. Mali en Senegal pak mekaar vanaand in Tanger, gevolg deur die kragmeting tussen die gasheer en Kameroen in Rabat. Môreaand kom Algerië en Nigerië teen mekaar te staan in Marrakesj, waarna Egipte en Ivoorkus in Agadir speel. Die halfeindstryde is Woensdag, onderskeidelik in Tanger en Rabat, die bronsmedalje-wedstryd volgende Saterdag in Casablanca en die eindstryd volgende Sondag in Rabat.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-583-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-470-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….