Nuus 17:00
BULLETIN 21 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê president Ramaphosa se Fase 3-plan moet werksgeleenthede skep
# Die Madlanga-kommissie bevraagteken of Fadiel Adams misbruik is of gewillig aan oortredings deelgeneem het
# En rugby, Rassie Erasmus sê hulle verwag die onverwagte van die All Blacks
# Die DA sê president Cyril Ramaphosa se Fase Drie regering-sake-vennootskap moet dringend optree om Suid-Afrika se ekonomiese krisis aan te spreek. Die partyleier Geordin Hill-Lewis verwelkom die teiken om die ekonomie met meer as drie-persent te laat groei. Hill-Lewis sê Suid-Afrika kan nie stadige hervormings bekostig nie, en vra vir duidelike spertye en aanspreeklikheid vir hervormings in energie, spoorweë, hawens en infrastruktuur. Hy vra ook vir minder regulasies en meer privaat investering:
# Die voorsitter van die Madlanga-kommissie, Mbuyiseli Madlanga, sê die getuienis van die leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, laat vrae ontstaan of hy misbruik is of ‘n gewillige deelnemer was aan beweerde oortredings. Adams het die aantyging verwerp en gesê hy was nie willens en wetens betrokke nie en het niks finansieel daarby gebaat nie. Hy het aan die Kommissie gesê hy glo die inligting wat hy teëgekom het, is eg, maar dat hy die beslissings van die howe en die Nasionale Vervolgingsgesag sal respekteer:
# Die Stad Tshwane het gedurende die 2025/26 finansiële jaar twee-duisend-821 titelaktes aan begunstigdes oorhandig, wat huiseienaarskap bevorder en inwoners wettige eienaarskap bied. Die Metro sê titelaktes bied gesinne groter sekuriteit en sekerheid, terwyl dit bates skep wat aan toekomstige geslagte oorgedra kan word. Die Stad sê deur hul Titelakte Vrydag-inisiatief word die registrasie-agterstand opgelos en kwalifiserende inwoners gehelp om toegang tot uitstaande dokumente te verkry. Inwoners word aangemoedig om munisipale kantore te besoek om verwerkte titelaktes af te haal.
# Die Zambiese polisie het opposisieleier Brian Mundubile vir ondervraging ontbied oor ‘n beweerde komplot wat nasionale veiligheid bedreig. Mundubile, wat tweede gekom het in verlede week se verkiesing, het president Hakainde Hichilema se oorwinning verwerp en beweer die stemming is gemanipuleer. Hy wil die uitslag in die hof betwis. Die polisie sê Mundubile en sy vise-presidentskandidaat, Makebi Zulu, het skuiling gesoek by ‘n naamlose internasionale organisasie. Mundubile het voorheen die beweerde komplot as verdigsel afgemaak.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hulle sal nie aangehits word deur die agenda wat die All Blacks in die media voer oor hul speelstyl nie. Die eerste van vier toetse word môre op Ellispark in Johannesburg gespeel. Nieu-Seeland is bekend vir hoëtempo, vloeiende en veelfasige aanvallende rugby, terwyl die Bokke ‘n hoëdruk-, pragmatiese spelstyl het, aangevuur deur fisiese oorheersing. Erasmus sê hulle verwag die onverwagte:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-1-sent teen die dollar, 18-rand-71-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-4-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-582-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 95-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….