Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering loop die sperdatum mis om sleutelgebiede vry te stel van beurtkrag
# Suid-Afrika toon ‘n afname in verkope en uitvoere van nuwe voertuie in Januarie
# En, krieket: ‘n Maklike oorwinning vir Australië oor die Windies in Melbourne
# Die regering het sy sperdatum van 31 Januarie met betrekking tot beurtkrag in sleutelgebiede misgeloop. Die Gautengse Hooggeregshof het vroeër beslis beurtkrag maak inbreuk op verskeie regte wat in die Grondwet verskans is. Die hofbevel het verklaar polisiestasies, skole, klinieke en hospitale moet teen einde Januarie beurtkragvry wees. Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, het die regering se oorweging bekend gemaak om ‘n wettige vertolking van die bevel aan te vra. Advokaat Siphile Buthelezi het aan SABC News gesê geen appèl is namens die staat aangeteken nie:
# Die Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers van Suid-Afrika, Naamsa, het ‘n afname van 3,8-persent in nuwe voertuigverkope in Suid-Afrika in Januarie bevestig. Uitvoere van nuwe voertuie het ook ‘n afname van 2,1-persent getoon, met 20-duisend-242 eenhede wat uitgevoer is. Die daling in verkope was duidelik in die afdeling van nuwe passasiersmotors, wat met 6,7-persent afgeneem het. Daar was egter ‘n effense toename van 2,3-persent in die verkope van bakkies, klein vragmotors en minibusse. Die uitvoerende hoof, Mikel Mabasa, skryf die afname toe aan verhoogde lewenskoste, uitdagings by die hawens en aanhoudende beurtkrag.
# Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke doen ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners om te registreer om te stem tydens die tweede en laaste registrasienaweek van die Onafhanklike Verkiesingskommissie. Die registrasienaweek is dié naweek aan die gang by verskillende stemlokale regoor die land. ‘n Woordvoerder van die raad, Malusi Mpumlwana, beklemtoon dis die demokratiese reg van elke Suid-Afrikaner om deel te wees van die stemproses. Mpumlwana sê deur te registreer om te stem, kan landsburgers hulle stem laat hoor en bydra om vorm te gee aan die toekoms van die land:
# Krieket: Australië het ‘n maklike oorwinning oor die Windies behaal in die eerste eendagwedstryd in Melbourne. Die besoekers is in die voorlaaste boulbeurt vir 231 uitgeboul met Xavier Bartlett wat vier paaltjies laat kantel het. Keacy Carty het die beste met die kolf gevaar met 88 en Roston Chase se bydrae was 59. Die gashere het die teiken in minder as 39 boulbeurte bereik met slegs twee paaltjies plat, met kaptein Steve Smith en Cameron Green onoorwonne op onderskeidelik 79 en 77. Josh Inglis se bydrae was 65. Die tweede van die drie eendagwedstryde vind Sondag in Sydney plaas.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-64-sent teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-49-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-54-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-24-sent per vat.
# Om mee af te sluit: ‘n Verslag deur 10X Investments toon die meeste Suid-Afrikaners in die werkersklas moet dalk lewenslank werk weens onvoldoende voorsiening vir die oudag, met slegs ses-persent wat in gerief kan aftree. Skokkend genoeg het 30-persent van diegene ouer as 50 geen aftree-vooruitsigte nie. Armoede verdiep die kwessie, met bykans die helfte van die bevolking wat onder die armoedelyn leef. Vroue, wat aan die hoof is van talle huishoudings, vaar aansienlik swakker. In weerwil van staatstoelaes is slegs 35-persent van afgetredenes gemaklik met hulle spaargeld, terwyl ander moet staatmaak op familie- óf staatshulp.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….