Nuus 17:00
BULLETIN 8 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cyril Ramaphosa fokus op plaaslike regerings-hervorming
# Die Grensbestuursowerheid onderskep meer as 20 minderjariges sonder toesig naby die Beitbrug-grens
# En, Stanford se brand woed steeds voort, met spanne wat op hoë gereedheidsgrondslag bly
# Die president van die ANC, Cyril Ramaphosa, sê die party fokus op die verbetering van munisipaliteite deur sy Plaaslike Regerings-aksieplan. Hy het by die kranslegging-seremonie vir Moses en Rebecca Kotane tydens die party se 114de verjaarsdagviering in Noordwes gepraat. Ramaphosa sê die regering se Operasie Vulindlula betree nou sy tweede fase, wat munisipale uitdagings teiken om betekenisvolle hervorming op grondvlak aan te moedig:
# Die kommissaris van die Grensbestuursowerheid, Michael Masiapato, het bevestig meer as 20 minderjariges sonder toesig is vandag naby die Beitbrug-grenspos in Limpopo onderskep. Die kinders, tussen vyf- en 17-jaar oud, het skynbaar van Suid-Afrika na Zimbabwe gereis. Die polisie en die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling sal die omstandighede ondersoek. Mmemme Mogotsi van die owerheid herhaal die benadering van geen-verdraagsaamheid teenoor die onwettige beweging van kinders oor Suid-Afrika se grense:
# Die munisipale bestuurder van Overstrand in die Wes-Kaap, Dean O’Neill, waarsku die brand in Stanford woed steeds, terwyl spanne op die toneel is. Die brand, tussen Die Kop-informele nedersetting en die nywerheidsgebied, woed buite beheer in digte, ontoeganklike plantegroei. O’Neill vra grondeienaars om waaksaam te bly, eiendomme skoon te maak en voor te berei vir brandbestryding. Hy raai inwoners aan om enige rook of nuwe brande onmiddellik aan te meld:
# Krieket: Die Engeland en Wallis Krieketraad het ‘n dringende hersiening ingestel ná Engeland se voortgesette vernedering in die reeks om die As, nadat Australië die reeks met 4-1 beklink het met ‘n oorwinning in die laaste toets in Sydney vanoggend. Dit lyk op hierdie stadium asof kaptein, Ben Stokes, hoofafrigter, Brendon McCullum, en die hoof van die krieketraad, Rob Key, se rolle veilig is. Die uitvoerende hoof, Richard Gould, sê egter die span se mislukking om die reeks te beklink, is uiters teleurstellend. Hy sê hulle was nie konsekwent genoeg nie en Australië het op die ou einde verdien om die gesogte trofee te behou.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-890-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-422-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-72-sent per vat.
# En laastens, ‘n berggorilla in die oorloggeteisterde oostelike Kongo het geboorte geskenk aan ‘n tweeling in wat beskryf word as ‘n groot gebeurtenis vir die bedreigde subspesie. Die Virunga Nasionale Park sê die geboorte van Mafuko se twee mannetjies is onlangs ontdek en die tweeling lyk op die oog af gesond. Baie van die wêreld se laaste berggorillas woon in die park, maar ‘n groot deel van die gebied is onder rebellebeheer en gevegte het ‘n verlies aan die woude versnel. Die pasgeborenes word noukeurig dopgehou om hul oorlewing te verseker.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….