Nuus 17:00
BULLETIN 6 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cyril Ramaphosa is bekommerd oor die Amerikaanse optrede in Venezuela
# NSFAS gaan in Februarie toelaagbetalings doen
# En tennis: Venus Williams verloor ook haar eersteronde-enkelspelwedstryd in Auckland
# Die ANC-president, Cyril Ramaphosa, het die Amerikaanse optrede in Venezuela veroordeel en sê dit ondermyn die land se soewereiniteit en die integriteit van sy grondgebied. Ramaphosa het tydens die 31ste jaarlikse herdenking van die vryheidsvegter, Joe Slovo, in Soweto, Johannesburg, gevra vir die onmiddellike vrylating van president Nicolás Maduro en sy vrou Cilia Flores in New York, en versoek beslissende optrede deur die VN-Veiligheidsraad ten einde internasionale reg te handhaaf:
Venezuela se ambassadeur in Suid-Afrika, Carlos Fo Acevedo, het ook tydens die Joe Slovo lesing, Suid-Afrika se veroordeling van die onlangse Amerikaanse militêre ingryping in sy land en die oproep vir ‘n dringende vergadering van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad verwelkom. Acevedo sê die ingryping het internasionale reg geskend en burgerlike lewens geëis. Hy sê Venezuela bly nogtans veerkragtig:
Intussen het Venezuela se hoof-opposisieleier, Maria Corina Machado, beloof om binnekort terug te keer huis toe en die Amerikaanse president, Donald Trump, geprys oor die omverwerping van haar vyand, president Nicolas Maduro. Sy verklaar sy is gereed om ‘n vrye verkiesing te wen. Die 58-jarige prokureur het in Oktober haar land verlaat om die Nobelprys vir Vrede te ontvang. Sy glo sy sal meer as 90-persent steun werf in ‘n vrye en regverdige verkiesing. Trump het vroeër gesê Amerika moet Venezuela se probleme aanpak voor ‘n nuwe verkiesing.
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente gaan op 1 Februarie ‘n vooruitbetaling doen vir volledige boekbetalings en ‘n maand se kos-, verblyf-, persoonlike sorg- en reistoelaes. Universiteite sal verantwoordelik wees vir die korrekte verspreiding aan kwalifiserende studente. NSFAS se waarnemende raadsvoorsitter, Mugwena Maluleke, het universiteite aangemoedig om so gou moontlik akkurate inligting van studente in te dien aangesien die registrasie-portaal reeds geopen het:
# Tennis: Die vyf-en-veertigjarige Venus Williams is as die agtste en laaste vroue-promotorskeuse vir die Australiese Ope aangewys. Die sewemalige Grand Slam-kampioen, wat laas in 2021 by Melbourne Park gespeel het, sal die oudste vrouespeler word om aan die toernooi se hooftrekking deel te neem. Williams sal voorberei vir die eerste Grand Slam van die jaar by die Hobart internasionale toernooi, waar sy ook ‘n promotorskeuse is en sal aansluit by mede-majorkampioene Barbora Krejcikova en Emma Raducanu.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-19-sent teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-799-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-466-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….