Nuus 17:00
BULLETIN 5 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC gaan ‘n amptelike standpunt aanneem oor die Amerikaanse optrede in Venezuela
# Die OR Tambo internasionale lughawe verbeter sy grensverwerkingsrekord
# En, SAPRA vra motoriste om te beplan voor die brandstofprysverlagings
# Die ANC gaan die party se formele standpunt oor die Amerikaanse inval in Venezuela aanneem, wanneer sy nasionale uitvoerende komitee in Noordwes vergader in aanloop tot die 8 Januarie-verklaring. Dit volg na die arrestasie van Venezuela se president, Nicolás Maduro, en sy vrou, Cilia Flores. Die egpaar is tans in New York waar hulle van dwelm- en wapenoortredings aangekla word. ANC-woordvoerder Mahlengi Bhengu-Motsiri sê gesprekke duur voort:
# Die Grensbestuursowerheid het bevestig die OR Tambo Internasionale Lughawe het sy uitgangsbaan-rekord verbeter en meer as 31-duisend reisigers binne 24-uur verwerk, die hoogste van alle ingangspoorte. Die Lebombo-grenspos het gevolg met 27-duisend, terwyl die Beitbrug-grenspos ongeveer 32-duisend verwerk het. Die owerheid se kommissaris, Mike Masiapato, sê bedrywighede verloop glad, ten spyte van pendelaarfrustrasie oor verwerkingstye. Hy verduidelik daar is deeglike prosesse, insluitend verskerpte kontroles vir landboukundige bioveiligheid:
# Die Suid-Afrikaanse Petroleum-kleinhandelaarsvereniging vra motoriste om voortuit te beplan voor beduidende brandstofprys-verlagings Woensdag in werking tree. Dit sluit in om hulle voertuie in stand te hou vir maksimum brandstof-doeltreffendheid en ingelig te bly oor toekomstige pryswisselings. Petrolpryse daal met tot 66-sent per liter, en dieselpryse met een-rand-50. Lampolie- en gaspryse daal ook skerp. Die vereniging se nasionale voorsitter, Henry van der Merwe, sê dit bring ekonomiese verligting:
# Venezuela se president, Nicolas Maduro, en sy vrou, Cilia Flores, word in die Metropolitaanse tronk in Brooklyn, New York, aangehou, waar hulle waarskynlik 23-uur per dag in ‘n sel toegesluit sal wees. Maduro staan in Amerika tereg op aanklagte van dwelmsmokkelary nadat hy tydens ‘n dramatiese oornag-klopjag gevange geneem is. Die sentrum huisves ongeveer een-duisend-300 gevangenes, met voormalige inwoners soos Ghislaine Maxwell en die hip-hop-magnaat, Sean “Diddy” Combs. Die tronk worstel teen wat gevangenes en verdedigingsadvokate onmenslike en onhigiëniese toestande noem.
# Krieket: Die voormalige Australiese kolwer Damien Martyn het uit ‘n kunsmatige koma wakker geword en het wonderbaarlik herstel nadat hy net meer as ‘n week gelede met meningitis gediagnoseer is. Die 54-jarige, wat tussen 1992 en 2006 67 toetse gespeel het, het laat verlede maand siek geword en is op 27 Desember in ‘n hospitaal in Queensland opgeneem. ‘n Boesemvriend en voormalige Australiese spanmaat, Adam Gilchrist, sê Martyn sal steeds in die hospitaal behandel word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-769-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-409-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….