Nuus 17:00
BULLETIN 18 Desember 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nkabinde-ondersoek hersien die lys van getuies
# ‘n Ontwikkelingsprogram stel die Sphazamisa-toepassing bekend om spaza-winkels in dorpsgebiede te moderniseer
# En, Fannie Masemola waarsku onwettige mynbou in Bapong is ‘n gevaar vir lewens en waterbronne
# Die Nkabinde-ondersoek na die geskorste Suid-Gautengse Direkteur van Openbare Vervolging, Andrew Chauke, se geskiktheid vir die amp het ‘n hersiene formele lys van moontllike getuies ingedien. Dit volg ná die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, verskoon is van kruisondervraging om ‘n regsmening in te win sonder ‘n formele aansoek. Dit het die oorspronklike getuie-volgorde ontwrig. Die ondersoek sal op 26 Januarie hervat namate die paneel die oorblywende getuienisse en nodige tyd bepaal om die sittings af te sluit.
# Die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram in Suid-Afrika het die Sphazamisa-toepassing bekendgestel, ‘n digitale platform om spaza-winkels in dorpsgebiede te moderniseer en entrepreneurskap te bevorder. Die toepassing bied kleinhandelaars ‘n digitale identiteit, geo-ligging en skakels na die Stad Johannesburg se sakeregister. Phumla Hlati van die program het aan SABC News gesê die kenmerke sluit in voorraadbestuur, e-betalings en voedselveiligheidsopsporing om winkels veerkragtig en winsgewend te maak:
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê onwettige mynbou in ‘n woongebied in Bapong naby Brits in Noordwes veroorsaak ‘n ernstige gevaar vir lewens en lewensbestaan. Dit volg nadat lugbeeldmateriaal wys het hoe zama-zama’s naby mense se huise werk, die omgewing beskadig en waterbronne bedreig. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, het aan Newzroom Afrika gesê owerhede berei voor om met reddingsoperasies te begin nadat vyf vermeende onwettige mynwerkers vermoedelik ondergronds vasgekeer is:
# ‘n Brit wat vir Oekraïne teen Rusland geveg het, is gevonnis tot 13 jaar in ‘n Russiese maksimumgevangenis nadat hy daaraan skuldig bevind is dat hy ‘n betaalde huursoldaat was. Die 30-jarige Hayden Davies het in ‘n video wat as getuienis gebruik is, gesê hy het by die Internasionale Legioen vir die Verdediging van Oekraïne aangesluit as ‘n buitelandse vrywilliger. Sy verhoor was in ‘n hof in Donetsk, een van vier Oekraïense streke wat Moskou in 2022 geannekseer het. Kiëf en die Weste verwerp dit as ‘n onwettige grondbesetting.
# Sokker: Die eerste Klub-Wêreldbekertoernooi vir vroue gaan nou in Januarie 2028 plaasvind. Dit is aanvanklik beplan vir volgende jaar, maar die wêreldbeheerligaam, Fifa, sê die nuwe datum gee belanghebbendes meer tyd om voor te berei en spelers ‘n blaaskans te gee. Die datum gaan volgens berigte talle Europese ligas se seisoene ontwrig. Die toernooi behels vier groepe van vier spanne elk, waarvan die boonste twee deurdring na die uitkloprondes. Die gasvrouland moet nog aangekondig word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-78-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 22-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-664-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-315-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 59-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….