Nuus 17:00
BULLETIN 12 Desember 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum sê die publikasie van matriek-uitslae is ‘n regsoorwinning
# Die atleet wat tydens die Soweto-marathon getref is, sterf aan haar beserings
# En krieket, Nieu-Seeland oorrompel die Windies binne drie dae in die tweede toets in Wellington
# Die Hooggeregshof in Pretoria het beslis die matriek-uitslae kan op openbare platforms gepubliseer word deur eksamennommers te gebruik om leerders se privaatheid te beskerm. Die hof het die Inligtingsreguleerder se betoog verwerp dat leerders die nommers kan misbruik om mekaar se uitslae te bestudeer. Alana Baily van AfriForum het die uitspraak verwelkom as ‘n oorwinning vir openbare belang en leerders se regte:
# ‘n Pretoriase ma van twee wat op 29 November tydens die Soweto-marathon deur ‘n taxi getref is, het aan haar beserings gesterf. Die vyf-en-veertig-jarige Dezirée du Plessis moes ‘n noodoperasie ondergaan vir bloeding op haar brein en was deurentyd in ‘n bedenklike toestand tot haar dood in die hospitaal vanoggend. Ondersteuners het in die weke daarna agter Du Plessis en haar gesin gestaan. Meer as 330-duisend-rand is ingesamel tydens ‘n Back-a-Buddy-fondsinsamelingsveldtog vir haar mediese uitgawes. Die taxibestuurder wat Du Plessis getref het, staan tereg op verskeie aanklagte.
# Die Kremlin se buitelandse beleidsraadgewer, Yuri Ushakov, sê Moskou het nie die bygewerkte Amerikaanse voorstelle gesien wat ná die onlangse gesprekke met Oekraïne gemaak is nie, maar hulle mag moontlik nie van alles hou nie. Die Oekraïnse president, Volodymyr Zelensky, het Woensdag gesê Kiëf het ooreengekom oor belangrike punte van ‘n na-oorlogse heropbouplan tydens gesprekke met die Amerikaanse president Donald Trump se skoonseun, Jared Kushner, en ander topamptenare. Ushakov sê die Kremlin moet ook die uitkoms van hierdie naweek se verwagte vergadering tussen Europese en Oekraïense amptenare sien.
Krieket: Nieu-Seeland het net drie dae nodig gehad om die tweede toets teen die Wes-Indiese Eilande af te handel en het die besoekers met nege paaltjies in Wellington afgeransel. Jacob Duffy het die Windies in hul tweede beurt vernietig toe hy vyf paaltjies geneem het en die besoekers is uitgeboul vir slegs 128 na ‘n agterstand van 73 lopies in die eerste beurt. Die gashere het die wenteiken van 56 lopies binne slegs tien boulbeurte bereik. Die eerste toets in Christchurch het onbeslis geëindig, en die derde en laaste toets begin Donderdag in Mount Maunganui.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-86-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-291-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-342-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-9-sent per vat.
# En laastens, die Stad Kaapstad sê die skoolvakansie het amptelik begin, en die Veilige Sone-veldtog om verdrinking te voorkom, is in volle gang. Lewensredders word by aangewese strande en swembaddens ontplooi van tienuur soggens tot sesuur saans. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê kinderveiligheid is ‘n gedeelde verantwoordelikheid. Ouers moet altyd weet waar hul kinders is, wat hulle aan het, wie hulle vriende is en waar hulle woon:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….