Nuus 17:00
BULLETIN 20 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa stel ‘n drie-persent groeiteiken aan die begin van die derde fase van die regering- en sakevennootskap
# Brown Mogotsi gaan vir ‘n vierde keer om borgtog aansoek doen, na nuwe getuienis
# En motorsport: Verstappen bly by Red Bull tot die 2030-seisoen
# President Cyril Ramaphosa het ‘n teiken gestel vir die mobilisering van drie-duisend-miljard-rand se beleggings met die aanvang van die derde fase van die vennootskap tussen die regering en sake-ondernemings. Hy het tydens die bekendstelling in Johannesburg gesê die nuwe fase sal fokus op ekonomiese groei, werkskepping en beleggersvertroue. Ramaphosa sê die regering wil ekonomiese groei bo drie-persent lig, met toerisme, landbou, landbouverwerking en mynbou onder die belangrikste sektore:
# Die vakverbond Cosatu sê hy is verheug omdat die verbruikersprysinflasie in Julie tot 4,3-persent gedaal het van die 5-persent in Junie. Suid-Afrika se inflasiekoers het in Julie die eerste keer in vyf maande verlangsaam, hoofsaaklik weens ‘n aansienlike daling in brandstofkoste. Matthew Parks van Cosatu sê die oorlog in die Midde-Ooste moet eindig en ʼn ware vredesplan moet ingestel word omdat dit sal bydra tot bestendige globale oliemarkte. Hy sê ʼn daling in brandstofpryse sal groot verligting aan werkers bied:
# Die selfverklaarde politieke tussenganger en sakeman van Noordwes, Brown Mogotsi sal na verwagting volgende Dinsdag weer in die Johannesburgse Landdroshof verskyn vir sy vierde borgtogaansoek, gebaseer op nuwe feite. Hy het vandag vlugtig in die hof verskyn op bewerings dat hy verlede jaar sy eie sluipmoordpoging in Vosloorus, oos van Johannesburg, opgemaak het. Hy staar aanklagte van meineed, regsverydeling en die onwettige besit van ‘n vuurwapen in die gesig.
# Die Suid-Koreaanse minister van Verdediging, Ahn Gyu-back, sê Noord-Korea beskik dalk oor tussen 80 en 120 kernplofkoppe. Dit is aansienlik meer as die Amerikaanse president Donald Trump se onlangse skatting van 57. Ahn het beklemtoon dat die presiese getal moeilik is om te verifieer, met die skatting wat gedeeltelik op privaat navorsing gebaseer is. Seoel erken Noord-Korea steeds nie amptelik as ‘n kernwapenstaat nie en sê dat hy op die Amerikaanse kernsambreel sal staatmaak eerder as om sy eie arsenaal te ontwikkel. Die ramings volg terwyl Trump later vanjaar nog ‘n vergadering met Kim Jong-un wil belê.
# Motorsport: Die viermalige Formule Een-kampioen Max Verstappen het ‘n nuwe langtermynkontrak met Red Bull gesluit wat hom tot 2030 vir die span sal laat jaag. Sy vorige kontrak sou einde 2028 verstryk. Die Nederlander het in 2016 by die span van Milton Keynes aangesluit en 71 wedren-oorwinnings behaal onderweg na sy vier bestuurderskampioenskappe. Verstappen sê hy is opgewonde om steeds met die span saam te werk om weer die beste te word. Hy is tans sesde in vanjaar se kampioenskap.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-16-sent teen die dollar, 18-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-963-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-473-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 95-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….