Nuus 17:00
BULLETIN 9 Desember 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement versterk die regsbeskerming vir getuies teen intimidasie tydens ondersoeke
# Minister Velenkosini Hlabisa sê Babita Deokaran se nalatenskap noodsaak rekenskap teen korrupsie en getuie-beskerming
# En, ses gearresteer, terwyl dwelms van miljoene rande by ‘n laboratorium in Noordwes ontdek word
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, sê die Parlement versterk die regsbeskerming van getuies ná beweerde intimidasie tydens die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se bewerings oor polisie-inmenging in misdaadondersoeke. Didiza het op Mbuyiseni Ndlozi se potgooi, African Renaissance, ‘n dreigende boodskap veroordeel wat die forensiese ondersoeker, Paul O’Sullivan, glo aan die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se personeelhoof, Cedrick Nkabinde, gestuur het. Sy vra kritici om die regte kanale te gebruik:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê die fluitjieblaser Babita Deokaran se erfenis noodsaak steeds nasionale rekenskap teen korrupsie en die beskerming van getuies. Hy het die eerste Babita Deokaran-lesing by die Universiteit Stellenbosch gelewer. Hlabisa het die hoop uitgespreek dat almal wat verantwoordelik is vir die dood van Marius van der Merwe, bekend as Getuie D, aangekeer en swaar vonnisse opgelê word:
# Ses mense is in hegtenis geneem tydens die ontdekking van ‘n geheime dwelmlaboratorium ter waarde van miljoene rand in Makapanstad in Noordwes. Lede van die Valke se Wes-Kaapse Ondersoekeenheid vir Ernstige Georganiseerde Misdaad wat saam met die Teen-dwelm- en bende-eenhede werk, het inligting gekry oor ‘n voortvlugtige verdagte in ‘n ander dwelmverspreidingsaak. Die Valke se woordvoerder, Katlego Mogale, sê die ondersoek het hulle na ‘n kleinhoewe in Thulwe gelei:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, se goedkeuringskoers het die afgelope week tot 41-persent gestyg omdat Republikeine sy hantering van lewenskoste waardeer. ‘n Sesdaagse meningsopname deur Reuters en Ipsos toon die koers het gestyg van 38-persent sedert verlede maand, wat die laagste was na sy Withuis-terugkeer in Januarie. Republikeine het swak gevaar in die verkiesings verlede maand in verskeie state nadat hulle gekritiseer is oor volgehoue hoë inflasie. Trump het die afgelope tyd sommige van sy tariefverhogings ingeperk om hoë voedselpryse teen te werk.
# Rugby: Die Stormers kry hul oorblywende Springbokke terug vir Saterdag se Kampioenebeker-wedstryd teen die Franse span La Rochelle in Gqeberha. Die span het pas teruggekeer van ‘n seëvierende toer deur Europa waar hulle Munster in ‘n Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd in Ierland verslaan en Bayonne in Frankryk geklop het aan die begin van die Kampioenebeker-seisoen. Ben-Jason Dixon, Ntuthuko Mchunu en Zachary Porthen het reeds verlede week teruggekeer, en hulle nasionale spanmaats Damian Willemse, Sacha Feinberg-Mngomezulu en Cobus Reinach sluit nou by hulle aan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 22-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-577-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-205-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….