Nuus 17:00
BULLETIN 8 Desember 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ANC-president Ramaphosa besin oor die ANC se verkiesingsterugslag voor die plaaslike regeringsverkiesing
# Die Activists and Citizens Forum vra weer dat minister Senzo Mchunu afgedank moet word
# En, beginselgoedkeuring is gegee vir ‘n openbare-privaat vennootskap om nuwe waterprojekte in Kaapstad te verseker
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa sê die 2024-verkiesing was ‘n reuse strategiese terugslag, met die party wat die eerste keer in 30 jaar sy nasionale meerderheid verloor het. Ramaphosa het aan afgevaardigdes by die Vyfde Nasionale Algemene Raad in Boksburg, Ekurhuleni, gesê die dalinghou verband met korrupsie en swak strukture. Ramaphosa beklemtoon die regering van nasionale eenheid het egter die Nasionale Demokratiese Revolusie se kernbeleide, inklusiewe groei en armoedevermindering beskerm en het ook ‘n bekwame, etiese staat aangedryf:
# Die Activists and Citizens Forum sê die minister van Polisie, Senzo Mchunu, moet diep nadink oor sy selfsugtige besluit om die taakspan oor politieke moorde te ontbind. Volgens die forum het die minister se besluit tot die dood van Marius van der Merwe gelei, wat verlede maand voor die Madlanga-ondersoekkommissie getuig het. Sy getuienis het gehandel oor die moord in 2022 op ‘n roofverdagte in Brakpan en die beweerde toesmering daarvan. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê Mchunu moet afgedank word:
# Die Stad Kaapstad het beginselgoedkeuring verleen vir die metro se planne om met verkryging te begin vir die Faure Nuwe Waterskema en die Paarden Eiland Ontsoutingsaanleg. Dit is deel van die metro se nuwe waterprogram. Die Burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, sê ‘n openbare-privaat vennootskapsmodel, gebaseer op die afsonderlike haalbaarheidstudies, word as die mees geskikte model beskou vir die twee ingewikkelde projekte:
# ‘n Waterlek by die Louvre het honderde boeke beskadig, slegs weke nadat juwele ter waarde van 1,7-miljard-rand uit die wêreldbekende museum in Parys gesteel is. Ten minste 400 boeke in een van die drie kamers van die Egiptiese antieke departement se biblioteek is beskadig. Volgens berigte bestaan die probleem reeds jare en herstelwerk is vir September volgende jaar geskeduleer. Kommer heers oor die verslegtende toestand van die wêreld se mees besoekte museum. Verlede maand is die Campana-galery, waarin antieke Griekse keramiek gehou word tydelik gesluit weens strukturele swakhede.
# Sokker: Die sokkerlegende, Wayne Rooney sê die Liverpool-doelskieter Mohamed Salah vernietig sy nalatenskap by die Engelse klub met sy reaksie nadat hy uit die beginspan gelaat is. Salah, wat vir die laaste drie wedstryde op die bank was, het bestuurder Arne Slot daarvan beskuldig dat hy hom die sondebok maak vir hul uiters swak begin van die seisoen. Salah, wat 250 doele vir Liverpool in agt jaar aangeteken het, kon hierdie seisoen tot dusver slegs vyf doele aanteken. Rooney sê Slot moet vir Salah wys wie in beheer is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-93-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-608-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-205-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….