Nuus 17:00
BULLETIN 4 Desember 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika sal lande nie aanmoedig om die G20 sjerpa-vergaderings te boikot nie
# Gauteng Onderwys sê byna 90-persent van graad 1 en graad 8 aansoekers is reeds geplaas vir 2026 toelating
# En, die MK-party sê die handhawing van ‘n 30-persent-matriekslaagsyfer verskans middelmatigheid in die samelewing
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika sal lande nie probeer aanmoedig om die G20 se sjerpa-vergaderings onder Amerikaanse presidentskap te boikot nie. Dit volg nadat Washington bevestig het Suid-Afrika sal nie genooi word na enige van volgende jaar se G20-byeenkomste in Miami, Florida, nie. Die Presidensie het vroeër gesê Suid-Afrika onttrek hom tydelik van die forum. Ramaphosa sê Pretoria sal aanhou fokus op sy eie diplomatieke belange sonder om ander lande te vra om namens hom op te tree:
# # Die Department van Onderwys van Gauteng sê net onder 90-persent van graad een- en graad agt aansoekers vir die 2026-skooljaar het reeds hulle plekke verseker. Die Departement het reeds plekke aan byna 318-duisend leerders toegeken, met net meer as 40-duisend wat steeds op plasing wag. Die LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, het aan die media gesê die daaglikse aanbiedinge sal voortduur totdat alle leerders geakkommodeer is, en het ouers aangespoor om plasings binne sewe dae te aanvaar om outomatiese toekennings te vermy:
# Die MK-party sê die meerderheid parlementslede se besluit om te stem dat die matriekslaagsyfer op 30-persent bly, is kommerwekkend. Build One South Afrika het ‘n mosie ingedien om die slaagsyfer na 50-persent te verhoog. Die MK-party sê deur die slaagsyfer op 30-persent te hou, word middelmatigheid in die samelewing verskans. Hy sê die belaglik lae standaard ondermyn die jeug se vermoë om op die wêreldverhoog te kan meeding.
# Die New York Times dagvaar die Amerikaanse Departement van Verdediging oor die Pentagon se nuwe beperkings op mediatoegang. Die regsgeding in die Federale Hof in Washington DC noem die departement, minister Pete Hegseth en die Pentagon se woordvoerder, Sean Parnell, as verweerders. ‘n Woordvoerder sê die beperkings is ‘n poging om beheer uit te oefen oor beriggewing waarvan die regering nie hou nie en dit skend die vrye media se reg tot inligting onder die beskerming van die Grondwet. Hegseth en sy assistente sal waarskynlik beswaar aanteken, met dieselfde nasionale argumente wat met die aankondiging van die beperkings gebruik is.
# Gholf: Louis Oosthuizen en ‘n aantal voormalige wenners sal volgende week ‘n sterk Suid-Afrikaanse groep by die Alfred Dunhill-kampioenskap by Royal Johannesburg lei. Oosthuizen, die 2023-kampioen, word vergesel deur voormalige kampioene Branden Grace, Christiaan Bezuidenhout, Brandon Stone, Richard Sterne, Shaun Norris en Ockie Strydom, en verteenwoordig van sewe van die laaste 12 wenners van die toernooi. Hulle wil almal probeer om die derde veelvuldige wenner in die geskiedenis van die toernooi te word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-96-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 22-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-734-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-191-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….