Nuus 17:00
BULLETIN 2 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Hilda Senthumule verduidelik die leiers is skuldig aan die oorhandiging van taakspan vir politieke moorde-dossiere
# Build One South Africa se leier sê die lae slaagsyfer laat leerders in die steek en ondermyn onderwysstandaarde
# En padwedlope, meer as 18-duisend atlete gaan môre aan die Soweto-marathon deelneem
# Die waarnemende adjunk- nasionale polisiekommissaris vir Misdaadopsporing, Hilda Senthumule, het aan die Madlanga-kommissie gesê enige leier sou skuldig wees as die 121 dossiere van die taakspan vir politieke moorde vir ouditering geskuif sou word. Sy sê dit was spesifiek bedoel om aan die speurder oorhandig te word. Senthumule het die ontbinding van die taakspan as irrasioneel beskryf en beklemtoon die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, was nie ingesluit nie en het eers beswaar gemaak nadat hy van die plan te hore gekom het:
# BOSA se leier, Mmusi Maimane, sê Suid-Afrika se onderwysstelsel laat leerders in die steek, veral dié in agtergeblewe gemeenskappe. Maimane het in die parlementêre debat oor die onderwyskrisis gevra dat daar ‘n einde gemaak word aan die slaagsyfer van 30-persent in graad 12, en aangevoer dit stuur die verkeerde boodskap oor aanvaarbare standaarde. Hy waarsku die Parlement die huidige drempel slaag nie daarin om leerders voor te berei vir universiteit of werk nie:
# Die Openbare Beleggingskorporasie het ‘n nuwe strategie oor aardgas goedgekeur wat ten doel het om Suid-Afrika se energiesekerheid te versterk en ontkoling te ondersteun. Die OBK sê die plan stem ooreen met die Nasionale Ontwikkelingsplan, die Konsep-gasmeesterplan en die komende 2025 Geïntegreerde Hulpbronplan. Sleutel-afdelings sluit in groot beleggings in gasinfrastruktuur, die omskakeling van Eskom se Ankerlig- en Gourikwa-aanleg na gas, die ontwikkeling van ‘n drie-duisend-megawatt gas-tot-krag-projek in Richardsbaai en om die dreigende nywerheids-gasvoorsienings-krisis te pak.
# Padwedlope: Meer as 18-duisend atlete gaan na verwagting môre aan die Soweto-marathon deelneem, wat by die Johannesburgse uitstalsentrum in Nasrec begin en eindig. Deelnemers kan kies tussen die marathon, die halfmarathon en die tien kilometer-wedloop, wat onderskeidelik 5-uur, 6-uur en 7-uur die oggend begin. Afsnytye geld die eerste keer by die halfpadmerk en by die Orlando-stadion se verversingspunt, met busse wat beskikbaar sal wees vir diegene wat die spertye misloop. Die wenners van die marathon oor 42-kilometer sal elk 250-duisend-rand ontvang. Registrasie sluit vanaand sewe-uur.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 22-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-529-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-173-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-36-sent per vat.
# En laastens, die Oscar-bekroonde aktrise Lupita Nyong’o sê sy sal nie weer slawernyrolle aanvaar nie. Tydens ‘n gesprek met die Grammy-bekroonde Beninese-Franse sangeres en aktrise, Angélique Kidjo, op Inside Africa, verduidelik Nyong’o sy wil die narratief verander van wat dit beteken om ‘n Afrikaan te wees. Sy voeg by selfs al beteken dit sy moet minder werk, sal sy rolle wat stereotipes versterk vermy aangesien dit noodsaaklik is om insigte te hervorm en Afrika se uiteenlopende stories te vier:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….