Nuus 17:00
BULLETIN 13 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet loof die mediumtermyn-begroting wat fokus op bestendigheid en groei
# Die waarnemende hoof van Misdaadopsporing ontbloot betrokkendheid van georganiseerde misdaad
# En, Minister Parks Tau verwelkom die finale verslag oor Media- en Digitale Platform-ondersoek
# Die kabinet verwelkom vanjaar se mediumtermyn-begroting wat Suid-Afrika se fiskale raamwerk vir die volgende drie jaar uiteensit. Die minister in die Presidensie, Khumbuzo Ntshavheni, sê die begroting gee voorkeur aan gesondheid, onderwys en maatskaplike toelaes sowel as groot infrastruktuur-beleggings in energie, water en vervoer. Sy beklemtoon dat die nuwe inflasieteiken van drie-persent koste sal verlaag, beleggingsvertroue sal verstewig en fiskale en monetêre beleid sal belyn om volhoubare groei en werkskepping te steun:
# Die waarnemende hoof van misdaadopsporing in KwaZulu-Natal, Anthony Gopaul, het die betrokkenheid van georganiseerde misdaad in die provinsie uiteengesit. Gopaul het aan die media onthul ‘n werknemer van die Suid-Afrikaanse Polisiediens het op 16 Januarie, Scharnick se misdaadrekords verander, en daarom glo Scharnick daar is niks op die stelsel nie. Hy het ook die rol van skroothandelaars en registrasiebeamptes in die fasilitering van motordiefstalle, motorkapings en ander misdade uitgelig:
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, verwelkom die Mededingingskommissie se finalisering van die Media- en Digitale Platform-markondersoek. Hy loof die inklusiewe proses wat op bewyse gegrond is en let daarop dat bevindings en regstellings van die uiterste belang is vir Suid-Afrika se media-sektor. Tau wys op uitdagings soos krimpende advertensie-inkomste, die invloed van digitale platforms en die ontwikkeling van kunsmatige intelligensie. Hy sê hy gaan die verslag binne tien dae by die Parlement indien vir oorweging:
# ‘n Vrou wat beweer sy is ‘n fortuinverteller en ‘n feng shui-meester, en haar dogter word daarvan aangekla dat hulle byna 780-miljoen-rand geswendel het uit kwesbare Viëtnamese burgers in Australië. Die 53-jarige en haar 25-jarige dogter is in Dover Heights in Sydney aangekeer. Volgens die polisie was hulle deel van ‘n hoogs-gesofistikeerde bedrog- en geldwassery-sindikaat. Die ma het na bewering haar slagoffers oortuig om lenings uit te neem en ‘n deel van die geld gehou deur die slagoffers te oorreed sy sien ‘n miljardêr in hul toekoms.
# Rugby: Springbok-hoofafrigter Rassie Erasmus het groot veranderinge aangekondig vir Saterdag se toets teen Italië in Turyn. Daar is 12 veranderinge aan die groep wat verlede naweek Franse harte gebreek het met ‘n oortuigende oorwinning van 32-17 in die Stade de France in Parys. Die enigste spelers wat in die opdrafspan oorbly, is kaptein Siya Kolisi, die stut Boan Venter, die vleuel Kurt-Lee Arendse en die heelagter Damian Willemse. Kwagga Smith keer terug na die bank in die plek van Johan Grobbelaar, wat haker speel. Afskop is Saterdagmiddag 2:40.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-1-sent teen die dollar, 19-rand-76-sent teen die euro en 22-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-909-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-232-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….