Nuus 17:00
BULLETIN 23 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reserwebank hou rentekoerse onveranderd op sewe-persent te midde van wêreldwye onsekerheid
# Mcebisi Jonas sê immigrante is nie verantwoordelik vir Suid-Afrika se ekonomiese probleme nie
# En, ‘n 70-jarige vrou is in hegtenis geneem vir die moord op ‘n Suid-Afrikaanse vrou in ‘n Franse dorpie
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee het die terugkoopkoers onveranderd gehou op sewe-persent, in die lig van voortdurende inflasierisiko’s en wêreldwye onsekerheid oor die konflik in die Midde-Ooste. Vier lede van die komitee was ten gunste daarvan om die koers onveranderd te laat, terwyl twee ‘n verhoging van 25-basispunte verkies het. Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, sê inflasie bly steeds hoër as die bank se drie-persent-teiken. Hy sê ekonomiese groei sal na verwagting in die komende maande verlangsaam weens swakker verbruikers- en sakevertroue.
# Die voorsitter van MTN, Mcebisi Jonas, sê die verwydering van immigrante uit Suid-Afrika los nie die land se ekonomiese uitdagings op nie. Jonas het tydens die Kgalema Motlanthe-stigting se Winterseminaar gesê werkloosheid, ongelykheid en korrupsie is gewortel in regeringsmislukkings eerder as migrasie. Jonas het leiers aangespoor om strukturele ekonomiese probleme aan te spreek in plaas daarvan om buitelandse burgers te blameer. Hy het gewaarsku blywende oplossings vereis sterker instellings, verbeterde openbare dienste en inklusiewe ekonomiese groei.
# Solidariteit Helpende Hand sê die regering moet dringend die administrateur van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, Hlengani Mathebula, se aanstelling hersien weens kommer oor leierskap en verantwoordbaarheid. Gerhard Pretorius van Solidariteit bevraagteken ook die aanstelling van Bojane Segooa aan die hoof van die skema se oudit- en risikokomitee, rakende ‘n ondersoek na ‘n uitbetaling van 625-duisend-rand in raadsfooie by Daybreak Foods wat steeds hangende is:
# ‘n Sewentig-jarige vrou is aangekla van die moord in April verlede jaar op ‘n Brits-Suid-Afrikaanse inwoner in die Franse platteland. Die 65-jarige Karen Carter is met agt meswonde aangetref voor haar gastehuis in Trémolat in die Dordogne-streek, waar sy langer as tien jaar gewoon het. Die verdagte is aanvanklik in hegtenis geneem, maar sonder ‘n aanklag vrygelaat. ‘n Latere geregtelike ondersoek het egter daartoe gelei dat sy nou formeel aangekla is. Die Dordogne-streek is besonder gewild onder Britse toeriste, mense met vakansiehuise en afgetredenes wat hulle in Frankryk vestig.
# Rugby: Die skrumskakel Stefan Ungerer is kaptein van die Stormers-23 – voorheen Westelike Provinsie – in Sondag se Curriebeker-kragmeting met hulle Kaapse bure, Boland, in Wellington. Daar is net een verandering aan die opdrafspan. Die losskakel Jean-Luc du Plessis het ‘n kniebesering en word vervang deur Dominique Malgas, wat beïndruk het in verlede naweek se wedstryd teen Griekwas, toe hy op die bank begin het. Die slot Gary Porter is terug op die bank na ‘n tydjie by Zimbabwe Sables.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-106-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-61-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 93-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….