Nuus 17:00
BULLETIN 10 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Staatsdienskommissie meld vordering aan met wetsontwerp oor die kommissie
# ‘n Spuitvliegtuigvlieënier sterf in ‘n helikopterongeluk naby Patensie
# En, Discovery Bank word met drie-miljoen-rand beboet weens nie-nakoming
# Die Staatsdienskommissie sê daar is beduidende vordering met die Wetsontwerp op die Staatsdienskommissie, wat nou voor die Nasionale Raad van Provinsies dien. Kommissaris Anele Gxoyiya sê openbare verhore is voltooi in Gauteng, die Wes-Kaap, Noordwes, die Oos-Kaap en die Vrystaat, en ander provinsies s’n sal die einde van die maand klaar wees. Hy verduidelik die wetsontwerp is daarop gemik om ‘n onafhanklike sekretariaat te vestig, toesig te versterk en uitvoerende beamptes wetlik te verplig om volgens die aanbevelings op te tree:
# ‘n Vroue-spuitvliegtuigvlieënier is dood nadat ‘n helikopter op die Roodegrond-plaas naby Patensie in die Oos-Kaap neergestort het. Die polisie sê die helikopter het kraglyne getref en die 43-jarige vlieënier is op slag gedood. ‘n Ondersoek is geopen om die oorsaak vas te stel. Owerhede hou die naam van die vlieënier terug totdat sy amptelik uitgeken is. Plaaslike boere, nooddienste en ‘n privaat sekuriteitsmaatskappy het na die toneel gehaas.
# Die Omsigtigheidsowerheid het administratiewe sanksies en ‘n finansiële boete van drie-miljoen-rand aan Discovery Bank opgelê vir nie-nakoming van die Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum. Volgens die owerheid het die bank versuim om onvoldoende beheermaatreëls teen geldwassery aan te meld, nagelaat om 24 verdagte transaksies betyds uit te wys, en versuim om verpligte personeelopleiding te verskaf aan baie werknemers, insluitend senior bestuurders. Volgens Discovery Bank het hulle saamgewerk en die probleme opgelos maar wys uit geen werklike geldwassery is bevind nie.
# Die Siriese president, Ahmed al-Sharaa, het in Amerika aangekom waar hy sy ampsgenoot, Donald Trump, in die Withuis sal ontmoet vir die eerste besoek deur ‘n Siriese staatshoof sedert onafhanklikheid in 1946. Al-Sharaa het in Januarie die tussentydse president geword nadat rebellemagte onder sy beheer die vorige maand die dekades-lange bewind van oudpresident Bashar al-Assad omvergewerp het. Die hooffokus van die vergadering sal na verwagting wees om Sirië formeel by die Amerikaans-geleide koalisie teen die Islamitiese Staat-groep te laat aansluit.
# Sokker: Manchester City het opgeskuif na die tweede plek op die Premierliga-punteleer na hulle die heersende kampioene Liverpool op die Etihad-stadion met 3-0 geklop het. Erling Haaland het sy 99ste Premierliga-doel geskiet, met Nico Gonzalez en Jeremy Doku wat ook doele aangeteken het. City is nou slegs vier punte agter die voorloper Arsenal, wat met twee doele elk gelykop teen Sunderland gespeel het. Bestuurder Pep Guardiola, wat in beheer was van sy duisendste wedstryd, sê hy dink nie aan die titel nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 22-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-113-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-103-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….