Nuus 17:00
BULLETIN 6 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Misdaadintelligensie-hoof se poging om terug te keer werk toe, word in die landdroshof van die hand gewys
# Biovac open ‘n nuwe enstof-laboratorium in Kaapstad om Afrika se vervaardigingsvermoë te verbeter
# En, Rugby: Groot mylpale vir Kolisi en Erasmus in Saterdag se toets teen Frankryk
# Die Pretoriase Landdroshof het ‘n Artikel 63-aansoek deur die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo en twee medebeskuldigdes om borgtogvoorwaardes te wysig en terug te keer werk toe, van die hand gewys. Khumalo, Precious Madondo en Josias Lekalakala mag nie na diens terugkeer nie. Khumalo en ses medebeskuldigdes is in Junie in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog en korrupsie oor die aanstelling van Dineo Mokwele in ‘n senior uitvoerende posisie sonder kwalifikasies. Mokwele staan tereg op aanklagte van die vervalsing van haar CV. Die korrupsiesaak is uitgestel tot 13 Februarie volgende jaar.
# AfriForum het sy oproep vir die afwenteling van wetstoepassingsmagte herhaal na skokkende onthullings voor die Madlanga-kommissie van ondersoek. Die organisasie sê die ondersoek het diep korrupsie, politieke inmenging en misdadige infiltrasie binne polisiestrukture blootgelê. Woordvoerder Jacques Broodryk sê die gesentraliseerde wetstoepassingsmodel laat burgers in die steek. Hy voer aan die afwenteling van magte na provinsiale of streeksvlakke sal verantwoordbaarheid, deursigtigheid en gemeenskapsvertroue in wetstoepassing verbeter:
# Die Suid-Afrikaanse biofarmaseutiese firma Biovac het met die ondersteuning van die Gates-stigting ‘n moderne laboratorium in Kaapstad geopen om die vasteland te help om sy eie entstowwe te ontwikkel en beter voor te berei vir toekomstige gesondheidsuitdagings. Biovac verskaf entstof vir Suid-Afrika se kinder-immuniseringsprogram. Dit is aanvanklik gestig om ingevoerde entstof in vennootskap met die nasionale Gesondheidsdepartement te versprei, maar het later uitgebrei na die finale stadiums van vervaardiging waar die produk deur samewerking met wêreldwye farmaseutiese firmas verwerk en in houertjies verpak word,
# Rugby: Saterdagaand se toets tussen die Springbokke en Frankryk in Parys bring groot mylpale vir kaptein Siya Kolisi en hoofafrigter Rassie Erasmus. Kolisi sal Suid-Afrika in sy 100ste toets aanvoer en word die negende Sprinbok om die mylpaal te bereik, terwyl Erasmus vir die 50ste keer as afrigter in beheer sal wees. Daar is ses veranderinge aan die span wat Japan verlede naweek met 61-7 geklop het. Heelagter Damian Willemse keer terug na ‘n besering. Cheslin Kolbe en Kurt-Lee Arendse is die vleuels met Sacha Feinberg-Mngomezulu en Cobus Reinach die skakelpaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-108-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-n-14-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-82-sent per vat.
# Die Stad Kaapstad het ‘n amptelike ooreenkoms onderteken om by 17 ander stede aan te sluit wat saam met die Instituut vir Globale Haweloosheid werk om haweloosheid te bekamp. Die instituut het in 2017 die eerste Vanguard-stede-samewerkingsgroep gestig. Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdiens en Gesondheid, Francine Higham, sê die doel is om plaaslike kundigheid en vernuwing te versterk tot voordeel van die gemeenskap en wêreldwye uitruiling:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….