Nuus 17:00
BULLETIN 30 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof beslis hoofman Albert Luthuli se dood in 1967 was nie as gevolg van ‘n treinongeluk nie
# Minister Kubayi verwelkom die vordering met die uitlewering van die verdagtes in die moord op AKA en Tebello Motsoane
# En, Statistieke SA toon ‘n 24-persent toename aan in algehele likwidasies in September
# Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, het bevind teen ‘n ondersoek van 1967 dat die destydse president van die ANC, Albert Luthuli, deur ‘n trein doodgery is. Regter Nompumelelo Hadebe het bevind bewyse stem nie ooreen met die oorspronklike gevolgtrekking nie, soos dat hy aangerand is voor sy liggaam op die spoor geplaas is. Forensiese kenners het getuig dat Luthuli se beserings verdedigingswonde toon. Hoewel die hof nie die aanvallers genoem het nie, het die uitspraak groot gebreke en moontlike toesmeerdery in die aanvanklike ondersoek uit die apartheidsera blootgelê.
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê vordering is gemaak met die uitlewering van diegene wat daarvan beskuldig word dat hulle die musikant, AKA en Tebello “Tibz” Motsoane vermoor het. Siyabonga Ndimande en Malusi Ndimande het hul appèlaansoek teen uitlewering van Eswatini teruggetrek, wat hul terugkeer na Suid-Afrika sal bespoedig. Die ministerie se woordvoerder, Terrence Manase, sê Kubayi sien uit daarna dat die beskuldigdes verhoor word sodat die slagoffers se families afsluiting kan vind:
# Die jongste syfers deur Statistieke Suid-Afrika toon ‘n toename in ondernemings wat misluk. Algehele likwidasies het in September met byna 24-persent gestyg vergeleke met verlede jaar. Maatskappy-likwidasies het met 16 gevalle toegeneem, en beslote korporasies met 12. Onica Mushwana van Stats SA sê die eerste nege maande van die jaar het ‘n toename van 3,8-persent getoon, wat die stygende finansiële druk op Suid-Afrikaanse ondernemings aandui:
# Rugby: Elf Suid-Afrikaners sal in die Barbarians se beginspan wees vir Saterdag se botsing met ‘n All Blacks-vyftiental in Londen. Die ster van Leicester Tigers, Hanro Liebenberg, is aangewys as kaptein van die span wat ook sy landgenote Bongi Mbonambi, Evan Roos, André-Hugo Venter, Werner Kok, Leolin Zas, Oli Kebble en Cobus Wiese insluit. Die Nieu-Seelandse groep sluit agt toetspelers in asook ‘n groep opkomende jong sterre. Die wedstryd begin Saterdagmiddag kwart oor drie, Suid-Afrikaanse tyd.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-499-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-972-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-65-sent per vat.
# En ten slotte: Die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewingsake en Toerisme het die Kabeljous-natuurreservaat in die Kouga-streek in die Oos-Kaap amptelik tot ‘n beskermde gebied verklaar. Dit volg ná meer as 25 jaar se voorspraak. Die reservaat beskerm die seldsame Humansdorpse skalierenosterveld, wat ‘n unieke soort plantegroei is en slegs in die Oos-Kaap voorkom. Dit is ook die tuiste van 16 bedreigde plantspesies en bedreigde voëls soos die Witkruis-vleivalk. Die departement sê hierdie nuwe status sal beskerming teen stedelike uitbreiding en habitat-verlies bied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….