Nuus 17:00
BULLETIN 27 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA beloof om die owerhede aanspreeklik te hou vir die Tembisa-hospitaalskandaal van 2,3-miljard-rand
# ‘n Oos-Kaapse onderwyseres word borgtog geweier op aanklagte van mensehandel
# En Mami Diale is Netbal Suid-Afrika se nuwe president
# Die DA sê strafregtelike aanklagte moet versnel word teen die tenderpreneur Hangwani Maumela en ander sleutelfigure in die Tembisa-hospitaal. Dit volg op berigte dat Maumela ‘n eksotiese Italiaanse motor van 52-miljoen-rand gekoop het terwyl hy na bewering 816-miljoen-rand uit hospitaalkontrakte gedreineer het. Jack Bloom van die party sê die geld kon talle dokters, verpleegkundiges of nuwe mediese toerusting befonds het. Hy waarsku dat politieke verbintenisse nie geregtigheid moet vertraag in hierdie skandaal waarby 2,3-miljard-rand betrek word nie:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het die borgtog van die 52-jarige onderwyseres Vuyokazi Gana suksesvol teengestaan. Sy word beskuldig van mensehandel, dat sy ‘n bordeel bestuur het en wins uit prostitusie maak. Die Oos-Londense landdroshof het beslis dat geen buitengewone omstandighede haar vrylating regverdig nie. Gana, wat op 15 Oktober in hegtenis geneem is, het na bewering jong vroue tot prostitusie gedwing. Luxolo Tyali van die NVG sê die hof beklemtoon die erns van die oortredings:
Die Kommissie vir Geslagsgelykheid waarsku intussen slagoffers se terugtrek van seksuele oortredingsake verswak Suid-Afrika se stryd teen geslagsgeweld. In Mpumalanga het vrees, intimidasie en ‘n gebrek aan ondersteuning gelei tot ‘n styging van 14,2-persent in sake wat teruggetrek word. Die kommissie sê swak koördinering, agterstande met DNS-toetse en tekorte aan aanklaers en forensiese personeel vertraag geregtigheid verder. Die kommissie se uitvoerende hoof, Dennis Matotoka, dring aan op sterker samewerking en aanspreeklikheid om oorlewendes te beskerm:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het in Japan aangekom as deel van sy toer in Asië. Die toer kan lei tot die beëindiging van die vernietende handelsoorlog tussen hom en sy Chinese ampsgenoot, Xi Jinping. Trump het aan boord Air Force One gesê hy is hoopvol dat hy ‘n ooreenkoms met Xi kan bereik wanneer hulle Donderdag ontmoet. Hy is ook bereid om sy reis te verleng om die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-un, te ontmoet. Trump sal na verwagting môre die nuwe Japanse eerste minister, Sanae Takaichi, ontmoet.
# Die adjunkpresident van Netbal Suid-Afrika, Mami Diale, is verkies tot nuwe president en volg Cecilia Molokwane op ná haar ampstermyn van agt-jaar. Diale het aan SABC News gesê die nuutverkose leierskap is dankbaar vir die vertroue wat die netbalgemeenskap toon. Sy het beloof om die ontwikkeling vanaf voetsoolvlak te versterk, spelers se welsyn te verbeter en die sport uit te brei:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-20-sent teen die dollar, 20-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-126-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-39-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….