Nuus 17:00
BULLETIN 22 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof in Pretoria beslis Zuma moet 28,9-miljoen-rand se regskoste terugbetaal
# Trump en Indië se eerste minister bespreek handelsbetrekkinge nadat hulle verhouding versuur het
# Krieket: Die Proteas is in beheer op die derde dag van die laaste toets teen Pakistan in Rawalpindi
# Die Hooggeregshof in Pretoria het oudpresident Jacob Zuma beveel om meer as 28,9-miljoen-rand se regskoste terug te betaal wat onregmatig deur die staat befonds is vir sy persoonlike verdediging teen korrupsie-aanklagte. Regter Anthony Millar het ook beslis hy moet die staatsadvokaat rente betaal. Indien die bedrag nie binne 60-dae vereffen word nie, kan daar beslag gelê word op Zuma se bates en dit kan verkoop word, insluitend sy presidensiële pensioen. Die staatsadvokaat moet kwartaalliks verslag doen oor hoe die invordering verloop. Zuma bly aanspreeklik vir die regskoste.
# ‘n Lid van die parlementêre ad hoc-komitee, Ashley Sauls, het die geskorste minister van polisie, Senzo Mchunu, versoek om te hou by die moed van sy oortuiging in sy getuienis oor die noodsaaklikheid om sekere polisie-eenhede te ontbind. Sauls sê bewyse toon die minimale waarde van die eenhede ondanks hoë begrotings wat aan nie-ondersoek-items soos wasgoed bestee word. Hy sê die fondse kan belangrike polisie-bedrywighede en -intelligensie versterk. Sauls het vir Mchunu gevra om nasionale plig te plaas bo openbare mening:
# Die DA het die minister van Vervoer, Barbara Creecy, gevra vir ‘n volledige ondersoek na duur kontrakte wat die Padongelukkefonds toegeken het tydens die termyn van die voormalige uitvoerende hoof, Collins Letsoalo. Twee mediakontrakte van altesaam ‘n miljard-rand is tydens die parlementêre ondersoek na die fonds onthul. Die kontrakte aan MediaMix360 en Dzinge Production, is onder die soeklig weens onreëlmatighede en moontlike oorbesteding. Patrick Atkinson van die DA sê miljoene-rand is vermors terwyl eisers nie betaal is nie:
# Die Indiese eerste minister, Narendra Modi, en die Amerikaanse president, Donald Trump het handelsbetrekkinge bespreek terwyl hulle ‘n ooreenkoms probeer bereik. Verhoudings het versuur toe Trump tariewe op Indiese uitvoere tot 50-persent verhoog en Indië beskuldig het dat hy Rusland se oorlog in Oekraïne befonds deur Moskou se olie te koop. Indië het nog nie ‘n formele handelsooreenkoms verseker nie, al was hy onder die eerste nasies wat onderhandelings begin het tydens Trump se tweede termyn. Trump het herhaal Indië sou Russiese olie-aankope verminder, maar Nieu-Delhi het geen beleidsverandering bevestig of ontken nie.
# Krieket: Suid-Afrika het die oorhand gehad op die derde dag van die laaste toets teen Pakistan in Rawalpindi. Die Proteas het swak begin toe hulle vier vroeë paaltjies verloor het met ‘n eerstebeurt-agterstand van 98, maar die boulers Senuran Muthusamy, Keshav Maharaj en Kagiso Rabadi het die wa deur die drif getrek om hulle tot 404 te neem – ‘n voorsprong van 71. Simon Harmer het daarna drie vinnige paaltjies platgetrek en Rabada een, en Pakistan het teen uitskeityd gesteier op 94 vir vier – ‘n skrale voorsprong van 23 lopies.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-43-sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-236-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-59-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….