Nuus 17:00
BULLETIN 21 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Getuie A beweer Sibiya was ontevrede oor waar Katiso Molefe aangehou is
# Bevestiging dat die diere in die Pretoriase Dieretuin goed gevoer word te midde van verwarring op sosiale media
# En rugby: Edinburgh se kaptein is terug in Skotland se groep na drie jaar
# Getuie A het die Madlanga-kommissie meegedeel dat die adjunk-nasionale kommissaris vir Misdaadopsporing, Shadrack Sibiya, ongelukkig was dat die sakeman Katiso “KT” Molefe in die Pretoria Sentraal-polisiestasie aangehou is in plaas van in ‘n plaaslike stasie in Sandhurst, Johannesburg. Hy het getuig Molefe is in Desember verlede jaar om veiligheidsredes na Pretoria-Sentraal geneem, aangesien sy inhegtenisneming hoë risiko was en daar moontlike inmenging van ander polisiebeamptes op die toneel was:
Die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, het intussen aan die Parlement se ad hoc-komitee gesê hy ken die omstrede sakeman van Noordwes, Brown Mogotsi, sedert 2017, maar ontken dat hul ‘n noue verhouding het. Mchunu sê hulle het nog nooit alleen ontmoet nie en hy het nooit oor Mogotsi se persoonlike lewe navraag gedoen nie. Hy het versoek dat die komitee weer na sy getuienis van Maart kyk en dring aan hy het nie gelieg toe hy voorheen gesê het dat hy Mogotsi nie ken nie:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bioverskeidenheids-instituut het bewerings op sosiale media verwerp dat die Pretoriase Dieretuin dringend kos nodig het vir sy diere. Die instituut het verduidelik die gerugte het begin toe ‘n inwoner van Tshwane aangebied het om takke te skenk, wat verkeerdelik verstaan is as ‘n noodoproep. Die dieretuin bevestig daar is voldoende kos vir al die diere. Lede van die publiek word aangespoor om die dieretuin te ondersteun deur middel van sy program om diere aan te neem.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse visepresident, JD Vance, is in Israel om die brose wapenstilstandooreenkoms in Gaza te versterk nadat president Donald Trump Hamas gewaarsku het hulle sal uitgewis word as hulle die wapenstilstand verbreek. Trump se spesiale gesant, Steve Witkoff, en skoonseun Jared Kushner is reeds in Tel Aviv, waar hulle gyselaars ontmoet het wat Hamas ná twee jaar vrygelaat het. Vance sal Witkoff, Kushner en Amerikaanse militêre kundiges ontmoet wat die wapenstilstand monitor. Volgens mediaberigte sal hy môre met Israelse leiers vergader, insluitend eerste minister Benjamin Netanyahu.
# Rugby: Edinburgh se kaptein, Magnus Bradbury, is teruggeroep vir Skotland se November-toetse, drie jaar nadat hy sy laaste toets gespeel het. Die 30-jarige losvoorspeler het die laaste van sy 19 toetse in 2022 gespeel. Hy is ingesluit in afrigter Gregor Townsend se groep van 45 vir die toetse op Murrayfield teen Amerika, Nieu-Seeland, Argentinië en Tonga. Kaptein Sione Tuipulotu is ook teruggeroep nadat hy die Sesnasies-reeks weens ‘n besering misgeloop het en lid was van die Britse en Ierse Leeus tydens hul reeksoorwinning in Australië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-39-sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-618-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-199-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 60-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….