Nuus 17:00
BULLETIN 17 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Tiener word tot 25 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Deveney Nel van die Hoërskool Overberg
# Die DA dring aan op antwoorde omdat die misdaadsyfers steeds nie bekendgemaak is nie
# En Venezuela ontplooi duisende soldate weens die Amerikaanse militêre opbou in die Karibiese See
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het ‘n 18-jarige seun tot 25-jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op ‘n graad 10-leerder van die Hoërskool Overberg in Caledon, Deveney Nel. Die tiener, wie se identiteit ingevolge die Kinderwet beskerm word, is ook skuldig bevind aan regsverydeling as deel van ‘n pleitooreenkoms. Deveney se liggaam is op 14 Augustus verlede jaar met veelvuldige steekwonde ontdek in ‘n pakkamer by die skool nadat sy as vermis aangemeld is. Die saak het die debat oor Suid-Afrika se Wet op Kindergeregtigheid weer aangewakker.
# Die DA veroordeel die vertraging met die vrystelling van misdaadstatistieke van Januarie tot Maart, wat nou sewe weke laat is. Die DA se woordvoerder oor die Polisie, Lisa Schickerling, sê die gebrek aan data belemmer stasies se vermoë om te beplan en hulpbronne toe te ken, veral voor die feestyd. Sy sê die DA sal aan die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, skryf en ‘n vrystellingsdatum eis. Sy waarsku dat voortgesette uitstel deursigtigheid, verantwoordbaarheid en gemeenskapsveiligheid reg oor Suid-Afrika ondermyn:
Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het intussen aan die parlementêre ad hoc-komitee gesê die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, het gedreig om terug te veg nadat hy die brief ontvang het wat die taakspan vir politieke moorde ontbind, en die aanstellings by misdaadintelligensie vries. Mchunu sê Mkhwanazi het sy woede uitgespreek deur WhatsApp en deur sy personeelhoof, Cedrick Nkabinde, en geëis dat die brief teruggetrek word en gewaarsku dat dit polisie-operasies kan ontwrig en ‘n uitwerking op sy gesin kan hê:
Nuus uit die buiteland:
# Venezuela het duisende soldate naby die Colombiaanse grens ontplooi na aanleiding van die Amerikaanse militêre opbou in die Karibiese See. Amerikaanse media berig ook oor ‘n nuwe aanval op ‘n beweerde dwelmsmokkelboot. Die Verenigde State het verskeie militêre vaartuie na die gebied gestuur en die afgelope weke ‘n reeks dodelike aanvalle op bote geloods. Minstens 27 mense is tot dusver in die aanvalle dood. Die militêre opbou het vrese in Caracas laat ontstaan dat die uiteindelike doel ‘n regeringsverandering in Venezuela is.
# Sokker: SAFA het ‘n driejaarvennootskap met Adidas aangegaan om van 24 Maart volgende jaar klere en toerusting vir alle nasionale spanne te verskaf, insluitend Bafana Bafana en Banyana Banyana. Die ooreenkoms volg Le Coq Sportif se kontrak op, wat op 31 Desember verstryk. SAFA se uitvoerende hoof, Lydia Monyepao, het dit as ‘n tuiskoms beskou, terwyl Adidas se senior handelsmerkdirekteur, Tom Brown, sê die handelsmerk sal vernuwing bring om Suid-Afrika se sokkersukses te versterk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-38-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-478-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-309-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….