Nuus 17:00
BULLETIN 16 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mchunu verdedig sy opdrag vir die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde
# Die DA in Gauteng verkla ‘n gewese gesondheidshoof oor die korrupsieskandaal by die Tembisa-hospitaal
# En sokker: SAFA bied Banyana se afrigter ‘n kontrak-verlenging van vier-jaar aan
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het sy opdrag om die taakspan vir politieke moorde te ontbind voor die Parlement se ad hoc-komitee verdedig. Hy het aan parlementslede gesê polisietaakspanne het ‘n bepaalde lewensduur, en bykomende befondsing verleng dit nie. Mchunu sê die ontbinding van die taakspan verseker dat alle Suid-Afrikaners voordeel trek uit polisiehulpbronne, wat ander eenhede toelaat om hul werk te doen sonder om deur die span se voortgesette teenwoordigheid belemmer te word:
# Die DA in Gauteng het ‘n strafregtelike klagte ingedien teen die voormalige finansiële hoof van Gauteng se Gesondheidsdepartement, Lerato Madyo, oor haar beweerde rol in die Tembisa-hospitaal-korrupsieskandaal. Die klagtes sluit in die versuim om korrupsie, sameswering, bedrog en veelvuldige oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur aan te meld. Madyo het na bewering die waarskuwings van die fluitjieblaser, Babita Deokaran, geïgnoreer en onreëlmatige betalings van meer as 104-miljoen-rand toegelaat. Jack Bloom van die DA vra ‘n dringende polisie-ondersoek.
# Steeds in Gauteng: Premier Panyaza Lesufi het die getekende prestasie-ooreenkomste van alle lede van sy uitvoerende raad vrygestel, wat deursigtigheid en dienslewering bevorder. Die ooreenkomste omskryf elke LUR se belangrikste verantwoordelikhede, uitsette, teikens en tydlyne. Dit omskep provinsiale voorkeure soos inklusiewe groei, misdaadvermindering, watersekerheid en elektrisiteits-bestendigheid in uitvoerbare planne. Woordvoerder Elijah Mhlanga sê Lesufi sal roetine-vorderingsvergaderings en ‘n middeltermyn-oorsig hou om doeltreffende inwerkingstelling te verseker:
Nuus uit die buiteland:
# Duisende Keniaanse ondersteuners het vandag na die Jomo Kenyatta-internasionale lughawe in Nairobi gestroom om die liggaam van die voormalige eerste minister, Raila Odinga, in te wag. Die 80-jarige is gister in Indië aan ‘n hartaanval dood. Odinga, wat in die volksmond “Baba” genoem is, is ‘n waterkanonsaluut gegee. Bedrywighede is tydelik gestaak terwyl roubeklaers die militêre voertuig met sy oorskot vergesel het. Planne vir ‘n openbare besigtiging en ‘n staatsbegrafnis is aan die gang. Kenia hett môre tot nasionale vakansiedag verklaar ter ere van die pro-demokrasieleier en pan-Afrikanis.
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging gaan Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, ‘n nuwe vierjaarkontrak aanbied na ‘n besluit op ‘n onlangse vergadering van die nasionale uitvoerende komitee in Mbombela, Mpumalanga. Ellis, wat die nasionale vrouespan sedert 2018 lei, gaan aan die stuur bly ondanks onlangse uitdagings, insluitend om nie vir verlede jaar se Olimpiese Spele te kwalifiseer nie. SAFA se skuif is daarop gemik om bestendigheid te handhaaf en voort te bou op Ellis se prestasies met die senior vrouespan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-135-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-251-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….