Nuus 17:00
BULLETIN 21 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Mkhwanazi en Getuie K word borgtog van vyf-duisend-rand elk toegestaan
# AfriForum Jeug is bekommerd oor die toetsplatform vir leerlinglisensies
# En, die Stad Kaapstad bewillig 100-miljoen-rand om haweloosheid te bekamp
# Die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni Metropolisie, Julius Mkhwanazi, en sy medebeskuldigde, bekend as Getuie K, is in die Johannesburgse Landdroshof op borgtog van vyf-duisend-rand elk vrygelaat. Die twee staan tereg op aanklagte van diefstal, roof, bedrog en korrupsie wat verband hou met die beweerde diefstal van sugilietstene ter waarde van byna 15-miljoen-rand tydens ‘n polisie-klopjag in Killarney in 2023. Mkhwanazi ontken die bewerings en sê Getuie K het bewyse teen hom vervals nadat hul verhouding verbrokkel het.
# AfriForum Jeug het die minister van Vervoer, Barbara Creecy, uitgedaag om die leerlinglisensietoets af te lê ná ‘n skerp daling in slaagsyfers onder die nuwe rekenaargebaseerde-toets-stelsel. Hanno Koster van Afriforum sê die stelsel benadeel kandidate onregverdig deur onduidelike of dubbelsinnige vrae. Koster vra ‘n onafhanklike ondersoek na die lae slaagsyfer en bygewerkte studiemateriaal om te verseker die toetsproses is regverdig, deursigtig en toeganklik:
# Die Stad Kaapstad het byna 100-miljoen-rand bewillig om mense wat op die straat slaap te ondersteun en skuilingverblyf uit te brei. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê die befondsing sluit 87-miljoen-rand in vir veilige ruimtes, uitreikprogramme en geleenthede vir winterondersteuningsprogramme. Sy sê ‘n verdere 10,1-miljoen-rand sal vyf verblyfsprojekte befonds. Sy voeg by die belegging sal kwesbare inwoners in help met skuiling, gesondheidsorg en geleenthede om hul lewens te herbou:
# Indië het ‘n senior Russiese diplomaat ontbied nadat vier Indiërs dood is in ‘n missielaanval op ‘n vragskip wat ‘n Oekraïnse Swartsee-hawe verlaat het. Drie missiele het die Golden Leo Sondag getref en die Indiërs en nog ses mense is dood. Indië se Ministerie van Buitelandse Sake het Rusland se saakgelastigde gevra om hulle sterk kommer oor te dra en sê dis onaanvaarbaar om handelskepe teiken met die gevolglike verlies van burgerlike lewens. Indië sê sulke aanvalle ondermyn die veiligheid, sekerheid en bestendigheid van internasionale maritieme handel.
# Rugby: Less Kiss se termyn as afrigter van die Wallabies het op ‘n laagtepunt begin nadat Australië twee van sy drie Nasieskampioenskapstoetse verloor het sedert hy by Joe Schmidt oorgeneem hete. Die Wallabies het tuis teen Ierland en Frankryk verloor voor hulle Italië 57-10 verslaan het, en is tans agste op die wêreldranglys. Kiss het die Queensland Reds sedert 2024 afgerig nadat hy vroeër by spanne soos die Bulle, die Stormers, Ierland en Ulster was. Sy eerste taak by die Wallabies is volgende maand se twee toetse teen Japan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 18-rand-78-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-491-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-58-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 88-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….