Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Internasionale Geregshof beslis ten gunste van Suid-Afrika in sy volksmoord-saak teen Israel
# Tshwane se raad keur ‘n strategiese plan goed om gekaapte en onwettig besette geboue te hanteer
# En, rugby: Bloemfontein bied die geskiedkundige eerste toets tussen die Bokke en Portugal aan
# Die Internasionale Geregshof het ‘n bevel aan Israel uitgereik om hom te weerhou van enige dade wat ingevolge die Volksmoord-konvensie gesien kan word, en om te verseker sy soldate voer nie volksmoord-dade in Gaza uit nie. Die hof se president, regter Joan Donoghue, het die uitspraak gelewer in Suid-Afrika se saak teen Israel en beklemtoon Israel moet maatreëls tref om volksmoord te verhoed en regstreekse aanhitsing straf tydens sy oorlog teen Hamas. Donoghue wys op die belangrikheid om burgerlike lewens te beskerm:
# Die Stad Tshwane se raad het die program vir volhoubare en beter geboue goedgekeur. Die doel is om die middestad nuwe lewe te gee deur aandag te gee aan verwaarloosde en onwettig besette geboue. Die stad sê nalatige eienaars, krotbuurt-base en sindikate wat geboue kaap, buit mense uit wat desperaat is vir bekostigbare en goedgeleë behuising. Woordvoerder Kingsley Wakelin sê die stad sal ‘n pro-aktiewe benadering volg om verwaarloosde geboue te takel deur die gedwonge verkoop van die eiendom deur howe, of onteiening.
# Die Departement van Water en Sanitasie het begin met openbare raadpleging oor wysigings aan die Nasionale Waterwet en Waterdienstewet. Die wette, wat in November in die Staatskoerant gepubliseer is, nooi die publiek om hul insette binne 60 dae te deel. Die departement versoek openbare deelname om ‘n samewerkende benadering tot waterbestuur te verbeter. Die raadplegings het ook ten doel om toegang tot water en sanitasie te verbeter. Wisane Mavasa van die departement sê die eerste raadplegings sal volgende week in die Noord-Kaap plaasvind:
# Die Narkotiseursvereniging van Namibië se woordvoerder, Jesse Mumba, het ‘n beroep gedoen vir raadpleging oor die Mediese Fonds se onveranderde tariewe vir 2024. Die fonds het verlede jaar aangekondig die standaardtariewe vir 2023 sal onveranderd bly tot in 2024, sonder om lede of gesondheidsorgverskaffers te raadpleeg. Hy stel jaarliks maatstaftariewe vas, wat as basis dien vir die bepaling van ledevoordele van alle mediese fondse. Mumba sê samewerking tussen belanghebbendes, insluitend fondslede, gesondheidsorgverskaffers en die fonds, is van kardinale belang om ‘n billike en doeltreffende gesondheidsorgbeleid te verseker.
# Rugby: Bloemfontein sal in Julie die heel eerste toets tussen Suid-Afrika en Portugal aanbied. Die Springbokke sal ook tuiswedstryde speel teen Ierland, die All Blacks en Argentinië. Die wêreldkampioen speel op ses Julie teen Ierland in Pretoria en ‘n week later in Durban. Die toets teen Portugal vind op 20 Julie plaas, gevolg deur wedstryde teen Nieu-Seeland op Ellispark op 31 Augustus en Kaapstad op 7 September. Die Bokke kom op 28 September in Mbombela teen Los Pumas te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-79-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 41-duisend-144-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-23-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….