Nuus 17:00
BULLETIN 14 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê plaaslike regering benodig meer fokus om dienslewering te verbeter
# Vyf geheime getuies getuig terwyl Madlanga-kommissie beperkte mediatoegang onder streng voorwaardes toelaat
# En sokker: ‘n Laat verandering aan Bafana se span vir die uiters belangrike wedstryd teen Rwanda
# President Cyril Ramaphosa sê plaaslike regering benodig meer fokus om dienslewering te verbeter en ongelykheid aan te pak. Ramaphosa het op vrae in die Nasionale Raad van Provinsies geantwoord Stad Kaapstad presteer goed met finansiële bestuur, maar het min vordering getoon in pogings om ongelykheid te verminder. Hy voeg by die regering beskik oor ‘n omvattende raamwerk om die gehalte van munisipale dienste te monitor:
Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, en die Britse minister van Handel en Nywerheid, Chris Bryant, het intussen in Londen ‘n ooreenkoms van verstandhouding onderteken om Suid-Afrika se infrastruktuurlewering te versterk. Die vennootskap bied tegniese kundigheid ter waarde van tien-miljoen-rand vir Projek Capstone, Projek Speed, en Infrastruktuur Suid-Afrika se Neem ‘n Munisipaliteit Aan-program. Macpherson sê die ooreenkoms het ten doel om belangrike projekte te versnel, openbare batebestuur te verbeter en werksgeleenthede te skep, terwyl Suid-Afrika in ‘n bouterrein omskep word.
# Afgetrede adjunkhoofregter Mbuyiseli Madlanga het beperkte mediatoegang verleen by die voortgesette ondersoek in Pretoria, terwyl vyf geheime getuies voorberei om te getuig. Die ooreenkoms tussen die kommissie, News24 en Daily Maverick laat afstandgetuienis sonder kamera’s toe ten einde getuies se identiteit te beskerm, maar ook openbare toegang te verseker. Hoofgetuienisleier Matthew Chaskalson sê die reëling bring balans tussen openbare deursigtigheid en die veiligheid van getuies wat betrokke is by sensitiewe korrupsie-ondersoeke:
# Limpopo se premier, Phophi Ramathuba, het gesinne versoek om geliefdes te identifiseer wanneer lykskouings môre begin ná Sondag se busongeluk in Makhado. Sy het bevestig die dodetal het tot 43 gestyg, terwyl 45 mense beseer is. Die bus was van die Oos-Kaap na Zimbabwe en Malawi onderweg toe die bestuurder beheer verloor het op die N1 in die bergagtige Jambuzi-vallei. Ramathuba bevestig ook owerhede gaan voort om die oorsaak van die ongeluk te ondersoek:
# Sokker: Bafana Bafana se hoofafrigter, Hugo Broos, moes op die laaste nippertjie sy span verander vir vanaand se deurslaggewende Wêreldbeker-kwalifiseerder teen Rwanda in die Mbombela-stadion in Mpumalanga. Die doelskieter Lyle Foster moes weens ‘n besering onttrek en is vervang deur Ashley Cupido van Stellenbosch FC. Dit is vanaand Suid-Afrika se laaste kans om vir volgende jaar se toernooi in Noord-Amerika te kwalifiseer nadat hulle drie toernooipunte prysgegee het omdat hulle ‘n geskorste speler gebruik het, en verlede week se doellose gelykop-uitslag teen Zimbabwe.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-47-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-504-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-107-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….