Nuus 17:00
BULLETIN 13 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Shadrack Sibiya getuig die politieke moorde-taakspan het in die geheim buite sy gesag opgetree
# Die eerste beskuldigde in die Meyiwa-moordverhoor, Muzi Sibiya, verskyn in die getuiebank
# En die staat begin sy slotbetoog in die heropende ondersoek na Luthuli se dood
# Die geskorste adjunk-nasionale polisiekommissaris vir Misdaadopsporing, Shadrack Sibiya, sê die taakspan vir politieke moorde het ‘n bisarre rapportering-struktuur gehad wat sy gesag beperk het. Hy is die derde getuie voor die Parlement se ad hoc-komitee wat die bewerings van die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, ondersoek, na plofbare bewerings wat hom met die eenheid se ontbinding koppel. Sibiya sê hoewel hy toesig hou oor speurders en misdaadintelligensie, was hy onbewus van sommige sensitiewe ondersoeke na politieke moorde:
# ‘n Beskuldigde, Muzi Sibiya, het as die verdediging se eerste getuie in die Senzo Meyiwa-moordverhoor in die Hooggeregshof in Pretoria getuig. Sibiya, wat deur advokaat Charles Mnisi verteenwoordig word, ontken enige deelname aan die moord wat in 2014 by Kelly Khumalo se huis gepleeg is. Hy getuig dat sy beweerde bekentenis met polisie-aanranding en dreigemente afgedwing is. Hy beweer hy is gedwing om ‘n voorafopgestelde verklaring te teken, wat hy nie toegelaat was om te lees nie, en wat hy sê ‘n versinsel is:
# Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg hoor tans die staat se slotbetoog aan in die heropende geregtelike doodsondersoek na die dood van die ANC-leier en Nobelpryswenner, Albert Luthuli, in 1967. Die oorspronklike doodsondersoek het bevind dat hy, sonder enige strafregtelike aanspreeklikheid, deur ‘n goederetrein getref is. Die heropende ondersoek wat in April begin het, het nuwe forensiese en spoorwegbewyse ondersoek, tesame met getuienis van familielede wat die verskerpte teistering deur die veiligheidspolisie uitgewys het, nadat Luthuli die Nobelprys vir Vrede in 1961 gewen het. Die slotbetoog sal Donderdag afgehandel word.
# Die UDM verwelkom die groeiende erkenning dat Suid-Afrika nie meer rou minerale moet uitvoer nie. Adjunkpresident Nqabayomzi Kwankwa sê veredeling is die sleutel tot werk, vaardighede en nywerheids-groei, maar waarsku dit vereis betroubare elektrisiteit, moderne spoorweë en sterk infrastruktuur. Die party versoek meetbare veredelingsteikens, aansporings vir plaaslike verwerking, ‘n gemeenskap wat deel in die voordele en ‘n dringende nasionale spoorweg-herstelplan. Dit is om grootmaat vervoerdoeltreffendheid te herstel en streekshandel te ontsluit, sodat minerale ‘n selfstandige, inklusiewe ekonomie kan wees.
# Rugby: Die Bulle sal sonder die Springbokke Handré Pollard en Wilco Louw moet klaarkom in Vrydag se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Connacht in Galway, Ierland. Pollard keer terug huis toe vir die geboorte van sy tweede kind, terwyl Louw die span verlaat verlaat ingevolge ‘n ooreenkoms met die nasionale span. Daarbenewens is die heelagter Devin Williams beseer tydens die nederlaag teen Ulster terwyl die losskakel, Johan Goosen, dalk nie betyds fiks sal wees nie. Die Bulle het van eerste na sesde plek teruggeval na die nederlaag van 28-7.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 20-rand-5-sent teen die euro en 23-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-470-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-90-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….