Nuus 17:00
BULLETIN 10 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie se ondersoek na politieke inmenging word Maandag agter geslote deure hervat
# Die omstrede sakeman Katiso “KT” Molefe kry borgtog van 400-duisend-rand
# En Netanyahu hoop om Maandag op die Joodse vakansiedag die terugkeer van gyselaars te vier
# Die Madlanga-kommissie van ondersoek na bewerings van politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel hervat Maandag sy werksaamhede in die Bridgette Mabandla-Justisiekollege in Pretoria. Woordvoerder Jeremy Michaels sê as gevolg van die sensitiewe aard van die getuienis, beplan die kommissie om die verhore agter geslote deure te hou, wat beteken dat die media en publiek nie toegang tot die verrigtinge sal hê nie:
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het 400-duisend-rand se borgtog aan Katiso “KT” Molefe toegestaan en die Landdroshof in Alexandra se vorige beslissing tersyde stel. Molefe staan tereg op aanklagte wat verband hou met die moord op DJ Sumbody, en beweerde bande met ‘n misdaadkartel bekend as “The Big Five”, wat by tenderbedrog betrek word. Regter Brad Wanless het Molefe beveel om drie keer per week by die Morningside-polisiestasie aan te meld en sê hy mag slegs met toestemming na Welkom reis vir sake:
# Die voorsitter van Eskom se raad, Mteto Nyati, sê die kragvoorsiener fokus nou op bekostigbaarheid nadat groter bestendigheid bereik is, met ‘n energiebeskikbaarheidsfaktor van ongeveer 70-persent. Hy het op die Johannesburgse Mynbou-indaba gesê Eskom beoog om elektrisiteits-tariewe in ooreenstemming te bring met inflasie terwyl skoner steenkool en nuwe inkomstestrome ondersoek word. Hy sê die stryd teen korrupsie kry steeds voorkeur, met tegnologie en vennootskappe wat aanspreeklikheid versterk:
Nuus uit die buiteland:
# Eerste minister Benjamin Netanyahu sê hy hoop Israel sal Maandagaand ‘n dag van nasionale vreugde kan begin wanneer al die lewende en dooie gyselaars na verwagting van Gaza sal terugkeer. Hy het in ‘n televisieuitsending gesê die Simhat Torah-vakansiedag was twee jaar gelede ‘n nasionale dag van rou, maar nou, met God se hulp, sal dit ‘n dag van nasionale vreugde wees met die terugkeer van 20 lewende gyselaars vanuit Gaza, met 28 wat dood is. Die Joodse fees begin Maandagaand teen sonsondergang.
# Rugby: Twee Suid-Afrikaanse spanne, die Bulle en die Stormers, is boaan die Verenigde Rugbykampioenskaps-punteleer voor die begin van die derde ronde. Albei spanne het hulle eerste twee wedstryde gewen, maar die Bulle is eerste na twee bonuspunt-oorwinnings teen die Stormers se een. Die Stormers speel vanaand teen Scarletts in Llanelli, Wallis, terwyl die Bulle môreaand in Ierland teen Ulster speel. Die Haaie speel môre teen die verdedigende kampioen, Leinster, ook in Ierland, terwyl die Leeus in Italië is vir hule wedstryd teen Benetton.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 22-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-980-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-989-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….