Nuus 17:00
BULLETIN 8 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Popcru herhaal sy oproep vir ‘n spitsberaad oor die stygende polisiemoorde
# Die RDK beveel vyf kandidate aan vir vakatures in die Konstitusionele Hof
# En tennis: Sabalenka, Gauff en Pegula haal die laaste 16 in Wuhan
# Die polisie- en gevangenisvakbond Popcru versoek ‘n nasionale spitsberaad om aandag te gee aan die groeiende aantal polisiemoorde. President Thulani Ngwenya het tydens Popcru se Sentrale Uitvoerende Komitee-vergadering in Johannesburg, kommer uitgespreek oor voortdurende uitdagings in die strafregstelsel te midde van die Madlanga-kommissie van ondersoek. Hy sê nuwe strategieë word dringend benodig om lede te beskerm aangesien ondersoeke oor korrupsie in die regstelsel voortdurend op die lappe kom:
# Die Regterlike Dienskommissie het onderhoude vir twee vakatures in die Konstitusionele Hof afgehandel en vyf kandidate aanbeveel. Die ervare akademikus Madumetja Malepe is uitgesluit weens bewerings van gesteelde kerkfondse, skuldkwessies en twyfel oor akademiese geloofwaardigheid. Die RDK se kommissaris, Sesi Baloyi, het bevestig die lys sal aan president Cyril Ramaphosa voorgelê word vir finale oorweging:
# Die minister van Wetenskap, Tegnologie en Innovering, Blade Nzimande, het aanlyn gepraat tydens die negende tweejaarlikse WNNR-konferensie en beklemtoon dat wetenskap, tegnologie en vernuwing noodsaaklik is vir ‘n volhoubare en regverdige toekoms. Hy vra ‘n soewereine Afrika-navorsingsagenda wat voedselsekerheid, klimaatsveerkragtigheid, KI-ontwikkeling en voorbereiding vir ‘n pandemie sal dek. Sy woordvoerder, Veli Mbele, sê Nzimande het wêreldwye samewerking, etiese vernuwing en die Dekadeplan beklemtoon om Afrika se navorsingsvermoë te versterk en volhoubare ontwikkeling te bevorder:
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Aryna Sabalenka, moes veg om haar onoorwonne rekord in die Wuhan Ope in China te behou toe sy moes inhaal om Rebecca Sramkova van Sloewakye. Die derde-gekeurde Coco Gauff, wat verlede jaar in die halfeindronde gespeel het, het haar plek in die laaste 16 bespreek met ‘n gemaklike oorwinning oor die Japanese kwalifiseerder, Moyuka Uchijima. Daarenteen het die wêreld-nommer-ses, Jessica Pegula, sewe wedstrydpunte en amper drie ure nodig gehad om haar Amerikaanse landgenoot Hailey Baptiste te klop.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 122-duisend-635-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-41-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-73-sent per vat.
# En ten slotte: SANParke sê sy Nasionale Parkeweek was ‘n reuse-sukses, met 105-duisend-en-51 mense wat van 22 tot 28 September die land se nasionale parke besoek het. Die veldtog het aan Suid-Afrikaners die geleentheid gebied om ‘n gratis dagtoegang tot ‘n nasionale park van hul keuse te ontvang. SANParke sê die Mapungubwe Nasionale Park in Limpopo het ‘n toename van 52,3-persent besoekers ondervind, gevolg deur die Bergkwagga- en die Addo-park in die Oos-Kaap met ‘n toename van onderskeidelik 52- en 47,3-persent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….