Nuus 17:00
BULLETIN 7 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit se lastersaak teen minister Ntshavheni gaan onbestrede voort
# Die Teddy Bear-stigting dagvaar regering vir die verontagsaming van die Nasionale Kinderbeskermingsregister
# En tennis: Raducanu onttrek aan die Wuhan Ope in die snikhete China
# Die vakbond Solidariteit sê sy lastersaak teen die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sal onbestrede voortgaan. Dit volg nadat Ntshavheni en president Cyril Ramaphosa nie ‘n antwoord ingedien het om die saak te betwis nie. Die saak hou verband met Ntshavheni se uitsprake in Maart wat beweer dat Solidariteit en AfriForum waninligting versprei het tydens hul besoeke aan Amerika. Solidariteit se uitvoerende hoof, Dirk Hermann, hou vol daar is geen bewyse om die bewerings te steun nie.
# Die drukgroep SECTION27, wat die Teddy Bear-stigting verteenwoordig, het die Hooggeregshof in Pretoria genader met ‘n aansoek vir ‘n bevel teen verskeie departemente om die Nasionale Kinderbeskermingsregister op datum te hou en in werking te stel. Die aansoek spruit uit ‘n saak in 2022 waarin ‘n leerder by ‘n skool in Noordwes deur ‘n opsigter verkrag is. Zeenat Sujee van SECTION27 sê die skool se beheerliggaam en die provinsie se Onderwysdepartement het versuim om al die nodige stappe te doen om die opsigter aanspreeklik te hou:
# ‘n Kandidaat vir ‘n vakature in die Konstitusionele Hof, regter Nambitha Dambuza,, sê dis noodsaaklik dat die hoogste hof geslagsverteenwoordiging weerspieël. Die Regterlike Dienskommissie het vandag met onderhoude begin en sal tot die 15de voortgaan om vakatures in die land se hoër howe te vul. Kandidate op die kortlys doen aansoek by onder andere die Konstitusionele Hof, die Appèlhof, Hooggeregshowe en die Arbeidshof. Dambuza beklemtoon ‘n geslagsbalans sal die publiek se vertroue in die regbank verhoog:
# Die DA in die Wes-Kaap sê toerisme en handel floreer voor die besige feestyd. Wesgro se nuutste lugtoegangverslag toon dat die Kaapstadse Internasionale Lughawe in Augustus meer as 223-duisend internasionale passasiers hanteer het, vyf-persent meer as verlede jaar, met plaaslike vervoer wat met sewe-persent gestyg het. George se Lughawe het 13-persent groei getoon, terwyl lugvrag met 54-persent gestyg het. Noko Masipa van die DA sê die party se handelsvriendelike benadering verbeter werksgeleenthede en beleggings in die provinsie:
# Tennis: Emma Raducanu het haar bloeddruk en ander liggaamsfunksies laat toets voordat sy weens duiseligheid onttrek het aan haar eersteronde-wedstryd in die Wuhan Ope. Die Britse wêreld-nommer-30 was 6-1, 4-1 agter teen die Amerikaner Ann Li in die temperatuur bo 30 grade Celsius. Die organiseerders het die hitte-reël op die eerste twee dae van die kompetisie in China toegepas. Dit laat spelers toe om tien minute te rus tussen die tweede en die derde stel en maak voorsiening dat die dak gedeeltelik of heeltemal toegemaak kan word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-18-sent teen die dollar, 20-rand-1-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 124-duisend-814-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-978-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….