Nuus 17:00
BULLETIN 6 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê ‘n ekonomiese oorlogskamer sal ingestel word om regeringsprestasie te monitor
# Lede van die Global Sumud-flottielje beweer hulle is mishandel in Israel
# En krieket: Die Protea-vroue jaag ‘n wenteiken van 232 teen Nieu-Seeland in Indore
# ANC-president Cyril Ramaphosa sê die party se nasionale uitvoerende komitee het besluit om ‘n ekonomiese oorlogskamer in die Presidensie te stig om regeringsprestasie te koördineer en gereelde vorderings-puntekaarte te publiseer. Die oorlogskamer sal staatsdepartemente aanspreeklik hou en beleide bespoedig om werkloosheid, armoede en hoë lewenskoste te bekamp . Ramaphosa het sy toespraak by die vergadering in Boksburg, Ekurhuleni, afgesluit deur te sê professionalisering en meriete-gebaseerde aanstellings sal ononderhandelbaar wees om doeltreffende lewering en aanspreeklikheid te verseker:
# Die leier van die GOOD-party, Patricia de Lille sê Unite for Change verteenwoordig meer as slegs ‘n politieke samesmelting. Sy beskryf dit as ‘n nuwe inklusiewe rigtingwyser voor volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing. De Lille sê die samesmelting van GOOD, Build One South Africa en RISE Mzansi gee aandag aan die versplintering van die opposisie. Sy moedig burgers aan, veral die jeug, om by die strewe na ‘n beter Suid-Afrika aan te sluit:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Groep deelnemers aan die Globale Sumud-flottielje wat deur Israel gedeporteer is, beweer hulle is mishandel. Een-en-twintig van die voormalige aangehoudenes het gister in Madrid aangekom en hulle vrees uitgespreek oor hul mede-aktiviste wat steeds in Israel is. Hulle was onder sowat 450 aktiviste wat verlede week in hegtenis geneem is aan boord van humanitêre hulpvaartuie wat kos, water en medisyne vervoer het. Diegene wat tussen Woensdag en Vrydag aangehou is, is na Israel geneem, waar baie steeds in die tronk is. Israel het die bewerings ontken,
# Krieket: Die Protea-vroue jaag ‘n wenteiken van 232 in hulle Wêreldbeker-groepswedstryd teen Nieu Seeland in Indore, Indië. Nieu-Seeland se kaptein, die legendariese kolwer Sophie Devine, het die loot gewen en besuit om eerste te kolf, waarna Marizanne Kapp die eerste paaltjie met die heel eerste bal laat tuimel het. Devine het 85 van 98 balle aangeteken voodat sy een van Nonkululeko Mlaba se vier slagoffers geword het, met die laaste paaltjie wat in die 48ste boulbeurt geval het na uitstekende veldwerk deur Suid-Afrika.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-25-sent teen die dollar, 20-rand-17-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 124-duisend-882-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-934-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-99-sent per vat.
# En ten slotte: Vanjaar se Nobelprys vir Medisyne is toegeken aan ‘n Japanese en twee Amerikaanse wetenskaplikes wat ontrafel het hoe die immuunstelsel die menslike liggaam beskerm teen duisende verskillende mikrobes wat dit probeer binnedring. Mary E Brunkow, Fred Ramsdell en Shimon Sakaguchi deel die prys vir die identifisering van regulerende T-selle wat as die immuunstelsel se veiligheidswagte optree en voorkom dat immuunselle die liggaam aanval. Hulle bevindinge het gelei tot die ontwikkeling van mediese behandeling wat outo-immuunsiektes kan genees, doeltreffender kankerbehandeling moontlik maak en komplikasies na oorplantings verminder.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….