Nuus 17:00
BULLETIN 2 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Frankryk sal Sondag ‘n voorlopige verslag oor die oorsaak van Nathi Mthethwa se dood lewer
# Openbare veiligheid is in gevaar met meer as 18-duisend paroolgangers wat binne drie jaar weer oortree het
# En rugby: ‘n Onervare skakelpaar gaan vir Argentinië speel teen die Bokke
# Die adjunkminister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Alvin Botes, sê die Franse polisie is besig om hulle ondersoek na die dood van die Suid-Afrikaanse ambassadeur, Nathi Mthethwa, af te handel. Hy het gepraat buite Mthethwa se woning in Kwambonambi, KwaZulu-Natal. Botes sê die lykskouings-verslag sal die oorsaak van sy dood uitwys, met die voorlopige verslag wat Sondag verwag word. Hy bevestig dat die repatriasie binne tien dae sal plaasvind. Botes waarsku teen bespiegelings:
# Die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, waarsku teen die toestaan van parool net om die oorbevolking in tronke te verminder. Hy het op ‘n vraag in die Parlement geantwoord dat meer as 18-duisend paroolgangers die afgelope drie jaar weer oortree het, insluitend 493 wat van moord aangekla word en 624 van verkragting. Diefstal en huisbrake is die algemeenste oortredings. Meer as 46-duisend gevangenes is sedert 2022 op parool vrygelaat, en meer as 28-duisend parooloortredings is sedert 2020 aangeteken. Groenewald vra ernstige paroolhervorming ter wille van openbare veiligheid.
# Die ANC sê stygende elektrisiteitspryse en voortdurende ladingsvermindering plaas ‘n swaar las op arm huishoudings. Die party verwelkom Eskom se wins van 16-miljard-rand en verbeterings in energievoorsiening, maar waarsku baie gemeenskappe kry steeds swaar as gevolg van kragonderbrekings en hoë koste. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê energiehervorming moet betroubare, bekostigbare elektrisiteit lewer wat groei en waardigheid ondersteun, nie swaarkry nie:
# Rugby: Argentinië se hoofafrigter, Felipe Contepomi, het volle vertroue in sy onervare skakelpaar vir Saterdag se laaste Rugbykampioenskapswedstryd teen Suid-Afrika op Twickenham. Die skrumskakel Simon Benitez Cruz speel in sy tweede toets in die plek van die beseerde Gonzalo Garcia. Die losskakel Geronimo Prisciantelli maak sy buiging nadat Contepomi die Pumas se agterlyn herrangskik het, met Santiago Carreras wat van losskakel na heelagter skuif. Die gereelde losskakel Tomas Albornoz is beseer toe hy verlede naweek van die bank opgedraf het tydens die vernederende nederlaag teen die Springbokke in Durban.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-21-sent teen die dollar, 20-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-292-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-893-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-72-sent per vat.
# En laastens, die nuwe laboratoriumnavorsing van die Universiteit Stellenbosch dui daarop dat rooibos die beweging van estrogeen in borskankerselle kan teenwerk. Estrogeen word dikwels beskryf as ‘n versneller van die groei van borskanker omdat baie borskankergewasse ontvangers het wat daarop reageer. ‘n Senior dosent in biochemie, Nicky Verhoog, sê omdat so baie vorms van borskankers sensitief is vir estrogeen, is dit betekenisvol dat rooibos moontlik kan help om die uitwerking te keer:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….