Nuus 17:00
BULLETIN 1 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Kaapstadse polisie voer klopjagte uit by 26 geboue oor beweerde tenderbedrog van 1,6-miljard-rand
# COSATU prys die herstel van Eskom, maar waarsku oor voortdurende uitdagings
# En rugby: Nuwe riglyne beperk elite-spelers tot 30 volle wedstryde per seisoen
# Die Kaapstadse polisie het klopjagte uitgevoer by 26 eiendomme wat verbind word met ‘n beweerde tenderbedrogsaak van 1,6-miljard-rand. Die grootskaalse operasie is gelei deur die Handelsmisdaad-ondersoekeenheid. Die stad se woordvoerder, Luthando Tyhalibongo, sê die polisie het beslag gelê op dokumente en elektroniese bewyse om die volle omvang van die beweerde korrupsie te bepaal:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê die Tembisa-hospitaal in Ekurhuleni, Gauteng, is vir plundering aangewend eerder as vir gesondheidsorg. Dit volg nadat ‘n verslag deur die Spesiale Ondersoekeenheid onthul het sindikate word verbind met die diefstal van meer as twee-miljard-rand, met hospitaalpersoneel en gesondheidsbeamptes wat betrek word. OUTA se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, vra beter beskerming vir fluitjieblasers en ‘n volledige oudit van alle Gautengse hospitale:
# Cosatu het Eskom en die regering geprys oor die kragreus se merkwaardige ommekeer, en verwys na sy eerste wins in agt-jaar en die verbetering in bestendige kraglewering. Matthew Parks van Cosatu sê hierdie vordering versterk die ekonomie ná die verlammende uitwerking van beurtkrag. Hy waarsku egter dat Eskom kwesbaar bly weens munisipale skuld van 95-miljard-rand, kabeldiefstal, korrupsie en onwettige kragverbindings. Parks vra dringende ingrypings om Eskom se langtermyn volhoubaarheid te verseker en werksgeleenthede te beskerm:
# Die afgevaardigdes van die Global Sumud-flottielje het onderneem om sy vreedsame humanitêre sending te handhaaf terwyl hulle Gaza nader, ondanks aggressiewe vlootbedrywighede en intimidasie. Die afgevaardigdes vra beskerming onder internasionale reg en vra die wêreld om aandag te gee aan die onwettige blokkering van humanitêre hulp en toenemende vyandighede in die streek. ‘n Suid-Afrikaanse afgevaardigde, Zaheera Soomar, beskryf pogings om kommunikasie te ontwrig en die toepassing van sielkundige druk:
# Rugby: Nuwe riglyne wat deur Wêreldrugby goedgekeur is, word geloof as ‘n mylpaal-oomblik. Dit beperk elite-spelers tot 30 volle wedstryde per seisoen ter wille van hulle gesondheid. Die nuwe reëls bepaal spelers sal geregtig wees op rusperiodes na toetse en ‘n af-seisoen van minstens vyf-weke. Wêreldrugby se voorsitter, Brett Robinson, sê die riglyne word deur die nuutste wetenskaplike en deskundige menings onderskraag. Die riglyne vir speler-las is van toepassing op die elite-mans- en vrouespel met die hoop dat dit beserings en harsingskudding sal verminder.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-17-sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-648-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-866-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….