Nuus 17:00
BULLETIN 25 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kgosientsho Ramokgopa stel ‘n plan bekend om ladingvermindering teen 2027 te beëindig
# NUMSA dring aan op die spoedige instel van ‘n elektrisiteitstarief om smelters te red
# En, Rugby: Ruhan Nel voer die Stormers teen Leinster aan
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê ‘n drieledige strategie sal ladingvermindering teen 2027 beeïndig. Die plan behels volledige voorsiening van gratis basiese elektrisiteit vir behoeftige huishoudings, die massa-instelling van slimmeters en die ontplooiing van verspreide energiebronne. Ramokgopa het die media meegedeel dat meer as een-miljoen-verbruikers, hoofsaaklik in Limpopo, Mpumalanga, Gauteng, en KwaZulu-Natal, geraak word, as gevolg van oorlaaide voerders, transformatorfoute en onwettige verbindings:
# Terseldertyd, kritiser die Nasionale Metaalwerkersvakbond van Suid-Afrika die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa en Eskom, vir vertragings met die instelling van die elektrisiteitstarief wat tot die heropening van die ontmantelde Glencore- en Samancorsmelters kan lei. Phakamile Hlubi-Majola van Numsa sê ten spyte van belowende vergaderings, duur afleggings voort, met duisende poste wat verlore gaan. Sy sê die vakbond vra vir dringende regeringsoptrede, insluitende moratoriums op afleggings, industriële aansporings, en invoer- en uitvoerbeheer:
# Die Krugerwildtuin het op Nasionale Erfenisdag wat saamval met Nasionale Parkeweek, ‘n rekordbywoning aangeteken. SANParke sê talle natuurliefhebbers het besoek afgelê om wildlewe en landskappe te geniet, maar van die gaste is weggewys as gevolg van kapasiteitsbeperkings en veiligheidsprotokolle. Die park se bestuur versoek toekomstige besoekers om vooraf te bespreek en teleurstelling te voorkom. Gratis toegang duur tot môre, en standaard hekkwotas geld. Daar sal hierdie naweek geen gratis toegang wees nie.
# Rugby: Die senter, Ruhan Nel, sal die Stormers aanvoer in hulle openingswedstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap môre teen Leinster in Kaapstad. Die ervare Dan du Plessis sluit by hom aan op senter, met Leolin Zas en Seabelo Senatla as vleuels en Wandisile Simelane op heelagter. Jurie Matthee en Stefan Ungerer is die skakelpaar met Evan Roos op agsteman. Die 19-jarige stut Olly Reid, losvoorspeler Ruan Ackermann, en losskakel Clinton Swart, sal hul buiging vir die Stormers van die bank af maak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-40-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-672-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-742-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-99-sent per vat.
# En laastens, die topverkoper voertuigvervaardiger, Toyota het sy nuwe hoëtegnologie dorpie in Japan geopen. Dit is ‘n eksperimentele projek om outonome voertuighantering en ander futuristiese ontwikkelings te toets. Die dorpie word voorgestel as ‘n voorbeeld van die werklike lewe om ‘n magdom uitvindings te toets, van vlieënde taxis tot robot-troeteldiere en hommeltuie wat jou in die nag huis toe vergesel. Omtrent 360-Toyota personeellede en ander persone wat aan die maatskappy verbonde is sal binnekort in die slimhuise intrek. Die dorpie is op ‘n ongebruikte Toyota-perseel aan die voet van Berg Fuji en sal uiteindelik twee-mijoen mense huisves.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….