Nuus 17:00
BULLETIN 23 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kommissaris Fannie Masemola sê ontbinding van taakspan vir politieke moorde is poging om ondersoek na misdaadsindikate te stuit
# Kommissaris Makgothi Thobakgale bevestig daar is meer as 55 000 gevangenes op parool weens tekort aan toesig
# En in rugby: Rassie kies bestendigheid, met Etzebeth en Willemse in Saterdag se begin-vyftiental teen Argentinië
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, beskryf die ontbinding van die taakspan oor politieke moorde as ‘n poging om ondersoeke na misdaadsindikate te stuit. Masemola het in Pretoria aan die Madlanga-kommissie gesê die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se besluit was irrasioneel en polities gemotiveerd. Hy het dit verbind met verlede jaar se klopjag op die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala se huis en die blootlegging van korrupsie in ‘n gesondheidskontrak van 360-miljoen-rand tussen sy maatskappy en die polisie:
# Die Nasionale Kommissaris van Korrektiewe Dienste, Makgothi Thobakgale, sê meer as 55-duisend gevangenes is uit op parool. Thobakgale het tydens die Nasionale Spitsberaad oor die Hersiening van die Paroolstelsel in Pretoria gesê die stelsel is onder druk weens ‘n tekort aan beamptes om die gevangenes doeltreffend te monitor. Thobakgale het aan SABC News gesê kapasiteitsuitdagings bedreig voldoening en openbare veiligheid. Hy voeg by strenger parooltoesig is noodsaaklik om rehabilitasie, herintegrasie en nasionale veiligheid te balanseer:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Energieontwikkelingsinstituut sê die regering kan die Onteieningswet gebruik om grond te bekom vir die uitbreiding van sy transmissienetwerk. Die hoof van die sekretariaat, Sampson Mamphweli, het tydens die Energie-indaba in Pretoria gesê onderhandelings met grondeienaars lei dikwels tot oordrewe koste wat projekte vertraag. Hy sê die Wet laat onteiening toe as onderhandelings misluk om die uitbreiding van 14-duisend-kilometer nuwe lyne te verseker wat benodig word vir die integrasie van hernubare energie en vir Suid-Afrika se billike energie-oorgang.
# Mali, Burkina Faso en Niger het aangekondig dat hulle van die Internasionale Strafhof onttrek, en beskuldig die hof daarvan dat hy as ‘n instrument vir neokoloniale onderdrukking dien. Die lande, al drie met militêre leierskap, het alreeds van die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrikaanse State weggebreek en hulle by die Alliansie van Sahel-state geskaar, en versterk bande met Rusland. Die drie lande veg teen teen Islamitiese opstande te midde van bewerings van gruweldade. Die Strafhof ondersoek Mali reeds sedert 2013 oor vermeende oorlogsmisdade in sy noordelike gebiede.
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het op bestendigheid gefokus met die keuse van die span vir Saterdag se Rugbykampioenskapstryd teen Argentinië op Kings Park in Durban. Eben Etzebeth en Damian Willemse is in die beginspan in die plek van die beseerde Lood de Jager en Aphelele Fassi. Damian de Allende keer terug op binnesenter langs Canan Moodie in ‘n opwindende middelveldkombinasie. Die stut Boan Venter sal op die bank wees, met Jan-Hendrik Wessels as die plaasvervanger-haker. Morné van den Berg is op die bank in die plek van Grant Williams, wat las het van ‘n besering.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-26-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-970-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-784-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….