Nuus 17:00
BULLETIN 22 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Masemola sê politiekemoorde-taakspan het ‘dooie’ sake heropen en noemenswaardige deurbrake gemaak
# ‘n JMPD-beampte word ondersoek ná getuienis voor Madlanga-kommissie
# En, ‘n studie waarsku Afrika-stede raak agter met klimaatsaanpassings
# Die Nasionale Polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê die politiekemoordetaakspan het ou sake heropen en beduidende deurbrake met sy ondersoeke gemaak. Masemola het by die Madlanga-kommissie van ondersoek in Pretoria getuig dat die taakspan sedert Februarie vanjaar 612 dossiere ondersoek en 297 sake afgehandel het, met 125 wat nog ondersoek word, tien wat wag vir besluite van die Nasionale Vervolgingsgesag, en 117 wat onttrek is. Hy het suksesse met ondersoeke by die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap beklemtoon:
# Die Johannesburgse Metropolisiedepartement het bevestig daar is ‘n interne ondersoek aan die gang na ‘n beampte van die honde-eenheid, Johannes Makgatle, nadat bewerings by die Madlanga-kommissie van ondersoek gemaak is. Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi het verlede week getuig Makgatle het polisiestelsels misbruik en lisensies vir die moordbeskuldigde Katiso “KT” Molefe hernu in ruil vir belonings. Die metropolisie se woordvoerder, Xolani Fihla sê die interne ondersoekeenheid stel ondersoek in en belowe dissiplinêre stappe indien wangedrag bewys word.
# ‘n Nuwe studie waarsku dat Afrika-stede nie genoeg doen om by klimaatsverandering aan te pas nie, met Durban en Harare wat as belangrike lesse uitgewys word. Kwesbare gemeenskappe word bedreig deur stygende temperature, reënval wat afneem, langdurige droogtes, en ernstige oorstromings. Navorsers waarsku dat klein veranderings soos die verbetering van dreineringstelsels nie die ernstiger ongelykhede aanspreek nie. Kenners vra vir transformatiewe aanpassings deur inklusiewe hervormings, die aanspreek van kernoorsake van kwesbaarheid, en die versterking van volhoubare en gemeenskapsgedrewe klimaatoplossings om Afrika se stedelike bevolkings te beskerm.
# Vyf mense, waaronder drie kinders is in Suid-Lebanon dood in ‘n aanval deur ‘n Israelse hommeltuig. Volgens die land se gesondheidministerie het vier van die slagoffers insluitend die kinders en hulle pa Amerikaanse burgerskap gehad. Twee ander mense is gewond, waaronder die kinders se ma. Die Israelse weermag sê in ‘n verklaring hy het Hezbollah-terroriste geteiken wat uit die burgerlike gemeenskap gewerk het. Die weermag het erken “verskeie onbetrokke burgerlikes” is dood en sê die voorval word ondersoek. Volgens die verklaring sal die weermag voortgaan om enige bedreigings teen die staat van Israel te verwyder.
# Rugby: Die Australiese stut Allan Alaalatoa, sê met sy terugkeer na die Wallabies, sy span sien Edenpark as net nog ‘n ander rugbyveld. Hulle hoop om Saterdag Nieu-Seeland se 31 jaar onoorwonne rekord op die ikoniese Auckland-stadion te beeïndig. Die All Blacks het in 1994 laas op Edenpark verloor, maar het Saterdag ‘n groot taak om daardie rekord te verdedig teen Australië as die Rugbykampioenskap-voorlopers. Nieu-Seeland is in hulle laaste wedstryd in Wellington, in ‘n rekord-nederlaag van 43-10 deur die Springbokke verslaan. Alaalatoa sê hulle fokus op hulleself:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-29-sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-969-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-723-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….