Nuus 17:00
BULLETIN 19 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mkhwanazi beweer politieke inmenging het ondersoeke na ‘n Gautengse dwelmkartel ontwrig
# Thabo Bester steek sy regsverteenwoordiger in die pad en stel ‘n nuwe regspan aan
# En, Rusland dreig ‘n Europese NAVO-land op dieselfde manier as wat hy Oekraïne voor die aanval bedreig het
# Die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, sê politieke inmenging het ondersoeke na ‘n Gautengse dwelmkartel ontwrig. Mkhwanazi het aan die Madlanga-kommissie van ondersoek in Pretoria gesê dat minister van Polisie, Senzo Mchunu, wat deur die omstrede sakeman, Brown Mogotsi, beïnvloed was, ‘n rol gespeel het om die politieke moorde-taakspan, wat by die kartelondersoek betrokke was, te ontbind. Hy sê dié ingrypings ontwrig polisiewerk en stel die nastreef van geregtigheid in gevaar:
# Die veroordeelde moordenaar Thabo Bester se prokureur, Lerato Moela, het aan die voortgesette voorverhoor in die Vrystaatse Hooggeregshof onttrek en Bester het advokaat MoAfrica Wa Maila aangestel om sy saak te hanteer. Bester, sy meisie Nandipha Magudumana, en medebeskuldigdes, insluitend voormalige personeel van die Mangaung Korrektiewe Dienste, staan tereg op aanklagte van medepligtigheid aan sy ontsnapping, bedrog, geldwassery, brandstigting en die skending van ‘n liggaam. Magudumana se uitleweringsaak in die Konstitusionele Hof vertraag die verrigtinge, met haar prokureurs wat gevra het om die verhoor tot 5 Desember uit te stel.
# ‘n Groep vooraanstaande ontleders meen die Kremlin het ‘n gekoördineerde inligtingsveldtog van stapel gestuur om een van sy ander buurstate te teiken met dieselfde retoriek wat voor die volskaalse aanval van 2022 teen Oekraïne gebruik is. Die Instituut vir die Studie van Oorlog sê senior amptenare in Moskou, waaronder lede van Vladimir Putin se binnekring, het ‘n aantal bewerings gemaak wat daarop gemik is om Finland te dreig. Finland deel ‘n grens van bykans een-duisend-300-kilometer met Rusland en het sy langdurige beleid van neutraliteit teenoor Rusland laat vaar nadat Rusland Oekraïne binnegeval het en in 2023 by NAVO aangesluit.
# Sokker: Die uitvoerende hoof van SAFA, Lydia Monyepao, sê hulle eerste prioriteit is steeds om die laaste twee Wêreldbekerkwalifiseerwedstryde te wen, ten spyte van FIFA se ondersoek oor middelveldspeler Teboho Mokoena se geskiktheid. FIFA ondersoek sy verskyning tydens Bafana se oorwinning van 2-0 in Maart teen Lesotho terwyl hy ‘n skorsing uitgedien het. ‘n Skuldigbevinding kan Bafana Bafana drie punte laat verloor. Monyepao sê die fokus is om in Oktober teen Zimbabwe en Rwanda te wen terwyl regsverteenwoordigers SAFA se verdediging voorberei. Sy het beklemtoon dat kwalifisering vir 2026 in Bafana se hande is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-38-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-117-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-652-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-53-sent per vat.
# En laastens, ‘n akademikus aan die Universiteit van die Wes-Kaap, Professor Siphamandla Zondi, sê kolonialisme het Afrika se selfkennis verdraai, wat ontwikkeling strem en veroorsaak dat armoede voortduur. Zondi het tydens die jaarlikse Keith Gottschalk-lesing gepraat en die vasteland aangespoor om sy eie multilaterale instellings te bou en intellektuele kolonialisme te oorbrug. Hy het ook Afrika se agentskap met BRICS en G20-samewerking verbind en alternatiewe finansiële stelsels bepleit om wêreldwye ongelykheid te transformeer:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….