Nuus 17:00
BULLETIN 17 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mkhwanazi onthul hoe die taakmag politieke moorde in KwaZulu-Natal en ander dele beveg het
# Die eerste groep ernstige siek kinders van Gaza kom in Brittanje aan vir mediese behandeling
# En rugby: Die Bok-stut Wilco Louw keer terug Kaap toe
# Die KwaZulu-Natalse polisie-kommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, sê die taakmag wat politieke moorde ondersoek het ongekende sukses behaal met hoë opsporings- en skuldigbevindingkoerse, en het later sy bedrywighede na die Oos-Kaap uitgebrei. Mkhwanazi het aan die Madlanga-kommissie van ondersoek in Pretoria verduidelik die eenheid is geherstruktureer in 2018 as ‘n nasionaal-geïntegreerde span met 139 polisielede en is befonds deur die nasionale begroting. Hy getuig dat politieke moorde dikwels aan ander misdaad gekoppel kan word:
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het na openbare verontwaardiging bevestig ‘n buitelandse burger is in ‘n senior bestuursrol aangestel. Daar is 16 senior bestuurders en een is ‘n buitelander, terwyl sewe uit die 169 personeellede buitelandse burgers is. Die kommissie het bewerings betwis dat die meeste van sy werksmag buitelanders is, en beskryf dit as vals en deel van ‘n waninligtingsveldtog.
# Die waarnemende data-ontledingsbeampte van die Nasionale Tesourie, Ayanda Hlatshwayo, het aan die Parlement gesê hulle gebruik ‘n proses om biometriese en fotodata met die Departement van Binnelandse Sake te verbind om amptenare sonder geldige ID-nommers te identifiseer. Hlatshwayo sê die stelsel toon afwykings in salaris- en administratiewe datastelle, insluitend bankrekeninge. Sy bevestig daar word tans voorlopige toetse uitgevoer met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens om spookwerkers te identifiseer:
Nuus uit die buiteland:
# Die eerste groep ernstige siek kinders van Gaza het in Brittanje aangekom ingevolge ‘n plan wat hulle toelaat om dringende mediese behandeling te ontvang. ‘n Tussen-regeringstaakmag het weke lank beplan aan die ingewikkelde humanitêre operasie om die kinders en hul onmiddellike gesinslede te ontruim vir spesialis-sorg in die staatsbeheerde Nasionale Gesondheidsdiens. Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê hy steun die mediese ontruimings van tien uiters siek kinders van Gaza na Brittanje, en vyftig van hul metgeselle.
# Rugby: Die Springbokstut Wilco Louw sal op ‘n langtermynkontrak vanaf die Bulle terugkeer na die Stormers aan die begin van die 2026/27-seisoen. Die oudleerling van HTS Drostdy in Worcester het in 2015 sy buiging vir die Stormers gemaak. Hy keer terug na die span wat hy as kind ondersteun het en vir wie hy reeds 46 wedstryde gespeel het. Die unie se direkteur van rugby, John Dobson, sê om Louw terug te bring is ‘n aanduiding van die rigting waarin die span in die toekoms wil beweeg.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-36-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-282-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-675-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….