Nuus 17:00
BULLETIN 12 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa is vasbeslote om munisipaliteite se diensleweringvermoë te herstel
# Die DA sê minister De Lille se optrede kos SA Toerisme tot 500-miljoen-rand
# En Trump sê ‘n verdagte in die Charlie Kirk-skietery is waarskynlik in aanhouding
# President Cyril Ramaphosa sê die regering is vasbeslote om munisipaliteite se vermoë te herstel om betroubare dienste te lewer en burgerregte te handhaaf. Hy het in Rustenburg, Noordwes, gesê watertekorte is onaanvaarbaar, en het swak bestuur, finansiële wanbestuur en korrupsie veroordeel. Ramaphosa het beklemtoon dit is noodsaaklik dat munisipaliteite hul fondse doeltreffend moet aanwend vir behoeftige ondersteuning, inklusiewe groei moet bevorder, armoede moet verminder en projekte met groot reikwydte moet instel:
# Die DA sê die minister van Toerisme se jammerlike hantering van SA Toerisme se sake het die land ‘n ongelooflike 500-miljoen-rand gekos. Haseena Ismail van die DA sê De Lille se ampstermyn beweeg van een skandaal na die ander. Sy sê De Lile was nie deursigtig met haar roekelose ontbinding van die SA Toerisme se raad nie en haar voortdurende weiering om rekenskap te gee het tasbare nagevolge:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê die verdagte in die moord op Charlie Kirk is waarskynlik in aanhouding. Die konserwatiewe aktivis is Woensdag by die Utah Valley University vermoor. Trump het aan Fox News gesê iemand na aan die verdagte, uitgeken as die 22-jarige Tyler Robinson, het hom aangegee, en sy pa het hom oortuig om oor te gee. Owerhede beskryf die sluipmoord as ‘n geteikende aanval deur iemand op ‘n dak. Trump gee lede van die radikale linkses die skuld vir die moord, maar vra sy ondersteuners om nie gewelddadig te raak nie.
# Rugby: Die Springbok-hulpafrigter Mzwandile Stick sê hulle besef hulle sal môre die volle 80-minute op hulle beste moet wees in die Rugbykampioenskapswedstryd teen die All Blacks in Wellington. Daar is heelwat op die spel vir Suid-Afrika. As hulle wen, behou hulle die Vryheidsbeker wat hulle verlede jaar die eerste keer sedert 2009 gewen het. Hulle sal ook in die wedloop bly om hulle titel te verdedig en weer die nommer een-posisie in die wêreld beklee. Stick sê hulle het baie geleer uit verlede week se nederlaag in Auckland.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-38-sent teen die dollar, 20-rand-36 teen die euro en 23-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-949-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-651-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-20-sent per vat.
# En laastens: Die Wes-Kaapse regering vier Erfenismaand deur ‘n erfenis-visie te bevorder wat inklusief, dinamies en gewortel in geleefde ervarings van gemeenskappe is. Die nasionale tema is: Herbedink ons Erfenisinstellings vir ʼn nuwe era. Die LUR vir Kultuursake en Sport, Ricardo Mackenzie, sê een van die geleenthede wat die Wes-Kaapse Argief- en Rekorddienste vandag aanbied, is ʼn gratis gesinsgeskiedenis-slypskool vir beginners:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….